Landbou
Opleiding teen plaasaanvalle
NICO VAN BURICK

'n Groep vrywilligers gaan met die steun van die TLU SA hulle beywer om boere op te lei om hulself teen plaasaanvalle te verdedig.

Die veiligheidskomitee van die TLU SA het die benutting van 'n opleidingsentrum by Cullinan buite Pretoria daarvoor goedgekeur. Die organisasie Vafa ("volunteers against farm attacks") is in Julie verlede jaar gestig met die oogmerk om plaasaanvalle te bekamp deur opleiding en veldtogte om groter bewustheid van die gevare onder landelike gemeenskap te skep.

Mnr. Jan-Harm du Toit van Pretoria, voormalige hoof van 'n reservistemag van die SA Polisiediens, het gesê hulle wil graag met hierdie projek 'n eenvormige opleidingstruktuur vir boere regdeur die land vestig, ongeag aan watter organisasies hulle behoort.

Van die onderwerpe wat op kursusse ter sprake sal kom, is die profiel van 'n aanvaller, wetgewing, sekuriteit by plaashuise, gebeurlikheidsbeplanning, noodhulp, selfverdediging en vuurwapenopleiding.

Du Toit sê die opleiding sal by die opleidingsentrum geskied wat in Cullinan ontwikkel word. Kursusse kan ook op ander plekke in die land aangebied word.

Hy hoop om teen Julie 'n SABS-goedgekeurde skietbaan by die opleidingsterrein te hê waar wapenopleiding verskaf kan word. Kragtens die nuwe vuurwapenwetgewing sal eienaars van vuurwapens oor bevoegdheidsertifikate moet beskik en Vafa hoop om dié soort opleiding te kan verskaf.

23 April 2004