Boere wat vee deur middel van die internet bemark, kan tot 10 % beter pryse realiseer teenoor tradisionele veilings. Dit is omdat die internet ringvorming uitskakel, sê mnr. Milton Green van CMW se internet-veilingsafdeling.
Hy het op 'n inligtingsdag op Barkly-Oos gesê dié veilingstelsel is in Namibië ontwikkel en die eerste keer in 1998 in Suid-Afrika op die proef gestel. "Dit is meer geslaag as ander veilingstelsels, soos die sogenaamde klokstelsel en video-veilings."
Hy sê boere wat vee deur die internet bemark, hoef nie self 'n rekenaar te hê om daaraan deel te neem nie. Verteenwoordigers van sy maatskappy kom haal die vee voor die tyd op die plaas. Kopers wat weekliks aan die veiling deelneem, weet nie wie die ander kopers is wat teen hulle bie nie. "Dit is een van die min bemarkingstelsels waar dit uitsluitlik vraag en aanbod is wat die prys bepaal."
Nog voordele is dat kopers vanuit hul kantoor aan die veiling kan deelneem. Dit beteken dat hulle op reiskoste kan spaar. Die vee wat verhandel word, word ook nie aan onnodige stres blootgestel nie.
Minder arbeid is nodig aangesien die diere slegs verskuif word nadat 'n transaksie afgehandel is. Hoewel die boer vooraf sy reserweprys moet verskaf, kan die prys kort voor die veiling deur die makelaar verander word as die boer dit verkies.
27 Augustus 2004