Aktiviste het wêreldwyd hul stryd teen die verbouing van geneties gemodifiseerde organismes (GMO's) verloor, hoewel hulle steeds hul aanslag versnel, het dr. Wynand van der Walt, raadgewer oor biotegnologie in die landbou, op 'n sojaboonboeredag op Dundee gesê.
Die aktiviste het hul fokus nou van emosionele uitsprake na die internasionale markplek verskuif. Afrika en veral Suid-Afrika is die nuwe slagveld. Daarom moet belanghebbendes sorg dat hulle op die hoogte van die standpunte kom, sigbaar bly en hul stemme laat hoor as hul belange op die spel is.
As 'n boer moet besin of hy GM saad wil plant of nie, moet hy dit soos enige sakebesluit benader. Hy moet besin of dit vir hom oplossings kan bied en of dit 'n verbruikersvraag het. "Basies moet hy besluit of hy wil bly waar hy is of vorentoe wil beweeg," het hy gesê.
Dit is bewys dat lande wat nuttige nuwe tegnologie gebruik, hul internasionale mededingendheid verhoog.
Soos in talle ander lande, is GM gewasse in Suid-Afrika in so 'n mate aanvaar dat dit hier is om te bly. Sulke gewasse het nie slegs bewese voordele nie, maar ook 'n veilige rekord, ondanks bangmaakstories wat deur aktiviste versprei word. Alle verbruikers van hierdie tegnologie word gedwing om aan reëls oor bio-veiligheid te voldoen. Suid-Afrika het ook 'n nasionale strategie oor biotegnologie en 'n goeie beheerraamwerk.
15 Oktober 2004