Die Demokratiese Alliansie (DA) bepleit in 'n nuwe plan die stigting van 'n polisie-afdeling vir grens en landelike veiligheid om te verhinder dat 'n leemte ontstaan nadat kommando's uitgefaseer is.
Die voorgestelde nuwe afdeling moet vyf gespesialiseerde landelike reaksie-eenhede en 'n landelike intelligensiesentrum koördineer, en sektorpolisiëring en misdaadbestryding in landelike gebiede aanvul.
Mnr. Ryno King, die DA se woordvoerder oor landelike veiligheid, het dié plan, Beskerming van Suid-Afrika se Hartland, op 'n wildplaas buite Bloemfontein bekend gestel. Dit is reeds aan mnr. Charles Nqakula, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, voorgelê.
Volgens die DA verteenwoordig dit 'n nuwe benadering tot landelike veiligheid.
King sê daar heers groter geesdrif in regeringskringe vir die afskaffing van kommando's teen 2009 as vir die oordrag van hul taak na die SA Polisiediens. Hoewel die Weermag onderneem het dat 'n leemte nie met die afskaffing van kommando's gelaat sal word nie, het die Weermag en SAPD nie die "politieke wil" om dit te verhinder nie.
"Daar word al vergaderings gehou waarin druk op kommando's geplaas word om so gou moontlik uit te faseer. 'n Deel van die opposisie se werk is om met werkbare alternatiewe te kom," het King gesê.
Die DA se voorstel is dat die nuwe eenheid uit die SAPD se begroting gefinansier moet word. Minstens 100 tot 150 lede van die SAPD moet daaraan toegewys word. 'n Nuwe pos vir 'n afdelingskommissaris moet ook geskep word.
Mnr. Andries Botha, DA-leier in die Vrystaat, het op die bekendstelling gesê hy glo die Regering wil kommando's ontbind omdat hulle onder siviele bevel is. Talle kommandolede stel egter nie daarin belang om in 'n burokratiese stelsel, soos met sektorpolisiëring voorsien word, te dien nie.
"Die uitfasering van die kommandostelsel is 'n absolute fout. Hoekom 'n organisasie ontbind wat sedert 1715 bestaan en internasionaal nageboots word?
Volgens hom is dit heeltemal onnodig, want onlangse "Boeremag-kaskenades het opnuut bewys dat daar nie meer 'n bedreiging uit die siviele omgewing is nie''.
Volgens die DA het plaasaanvalle ná 1994 soveel toegeneem dat dit in 2000 'n hoogtepunt van amper 1 000 per jaar behaal het. Sedertdien het dit in die algemeen afgeneem, maar in Gauteng, die Vrystaat en KwaZulu-Natal neem dié aanvalle steeds toe.
17 Desember 2004