Landbou
'Meeste plaasaanvalle uit wraak'
MARLEEN SMITH

Verreweg die meeste plaasaanvalle waarmee hy te doen kry, word uit wraak gepleeg, sê mnr. Hennie Gerber, hoof van Vrystaat Landbou se inligtingsdiens.

Sy belangrikste wenk aan boere om aanvalle te verhinder, is om hul werkers menswaardig te hanteer.

"Bou en handhaaf 'n gesonde verhouding met jou werkers. Hulle is in die meeste gevalle net so bedreig soos jy. Talle plaasaanvalle is al gefnuik danksy vroegtydige optrede en inligting van werkers," het Gerber gesê.

'n Bronnestelsel is vir hom die belangrikste rede om sukses. Die meeste van sy beriggewers in die provinsie is plaaswerkers, sê hy.

In die jaar waarin hy nou die diens onder Vrystaat Landbou se vaandel bedryf, is 22 dreigende aanvalle in die provinsie afgeweer — meestal in die Noord- en Noordoos-Vrystaat. Gerber het telkens inligting gekry, dit verwerk, aan die SA Polisiediens of SANW oorgedra. Met hul hulp is die vermeende aanvallers ingewag of gewaarsku.

In terugblik op die eerste jaar meen Gerber die diens het 'n betekenisvolle bydrae gelewer om die Vrystaatse platteland 'n veiliger plek te maak. Dit het beslis lewensverlies verhoed.

Wat ander landelike misdaad, soos vee- en voertuigdiefstal betref, het Gerber 21 sake ondersoek en die nodige inligting aan die SAPD oorhandig.

Hy kan sy werk vanjaar danksy 'n borgskap van Premier Auto (voorheen Bloemdelta) in Bloemfontein voortsit. Dié onderneming het pas die motor wat hy verlede jaar aan Gerber vir sy werk beskikbaar gestel het, met 'n nuwe een vervang. Gerber het 45 000 km met die vorige motor afgelê.

Mnr. Ian Barr, Premier Auto se handelaarshoof, sê hy het in die afgelope jaar heelwat oproepe ontvang van boere wat dankie sê. "Sommige mense het in trane uitgebars as hulle sê dit het hul lewens gered."

21 Januarie 2005