Die nuwe Landboukredietskema wat president Thabo Mbeki verlede jaar aangekondig het om aan opkomende en bestaansboere toegang tot finansiering te bied, het 'n mikpunt om in die eerste jaar sowat 700 000 boere te bereik en tot R300 miljoen in lenings te verskaf.
Altesame R1 miljard is bewillig. Dit sal oor 'n tydperk van drie jaar aan dié boere uitgeleen word, sê me. Jenetha Mahlangu, senior bestuurder vir landboufinansiering en koöperatiewe ontwikkeling by die Departement van Landbou.
Die grootste deel van die Regering se fokus bestaan uit boere wat hul mark op 'n klein skaal bedien, maar steeds genoeg geld maak om hul lenings af te betaal. Die mikpunt is om meer as 2 miljoen sulke boere in die volgende drie jaar te bedien. Mahlangu sê die Regering hoop dat dié boere en ander beginnerboere toegang tot die geld kry en hulle daarna in 'n posisie sal wees om bates op te bou om vir lenings van byvoorbeeld handelsbanke en die Land Bank in aanmerking te kom. Sy sê die R1 miljard wat ingevolge Artikel 5 van die Wet op die Bestuur van Landbouskuld bewillig word, is nie bedoel vir bestaansboere wat vir hul eie verbruik produseer nie. Dié lenings is bedoel vir gewasverbouing of vir doelwitte op mediumtermyn, soos die koop van werktuie, sê Mahlangu.
Die kredietskema het egter nog nie 'n sent uitbetaal nie, want goedkeuring word van die Kabinet verlang. Mahlangu sê die Departement van Landbou kan later vandeesmaand moontlik die groen lig kry wanneer die volgende kabinetsvergadering gehou word. Die idee is dat tussengangers, soos handelsbanke en die Land Bank, optree om die geld aan boere te betaal. "Tans het ons geen limiet vir hoeveel 'n boer kan leen nie, maar ons verwag dat hulle aan dieselfde soort prosesse onderwerp sal word soos met enige ander lening. Dit beteken daar moet bepaal word of die betrokkene die lening sal kan afbetaal voor die geld uitbetaal word."
Mahlangu sê die Regering is bewus dat boere wat die geld ontvang, moontlik geen finansiële kennis of bestuursvaardighede het nie. Sy noem wel dat die Regering se omvattende landbou-ondersteuningsprogram (Casp) voorsiening maak vir finansiële opleiding en dat finansiële vaardighede hiervolgens by beginnerboere gekweek kan word.
21 Januarie 2005