Landbou
Vrugtebedryf kyk vorentoe


Die finale konsep van 'n oorhoofse plan vir die vrugtebedryf, wat sagtevrugte, sitrus en subtropiese vrugte insluit, is pas vrygestel.

Dié bedryf behoort 'n verenigde, nie-rassige en welvarende strategie vir die toekoms te skep, meen 'n taakspan bestaande uit plaaslike en buitelandse kundiges wat die konsep saamgestel het.

Volgens die taakspan kan hierdie doelwitte bereik word deur die bevordering van gelyke deelname, die verbetering van wêreldwye mededingendheid en die versekering van winsgewendheid en volhoubare hulpbronbestuur.

Vrugte SA het die Leerstoel in Landboubemarking en Ontwikkeling aan die Universiteit van die Vrystaat opdrag gegee om die verslag saam te stel en word tans aan die betrokkenes in die bedryf versprei. Belanghebbendes word genooi om teen 18 Februarie terugvoer te lewer.

Die opstellers van die verslag sal dan die voorstelle oorweeg, waarna 'n finale dokument, Toekomstrategie vir Suid-Afrika se Vrugtebedryf, aan Vrugte SA oorhandig sal word.

Volgens Vrugte SA is die doel van dié plan om die vrugtebedryf in staat te stel om 'n verskeidenheid uitdagings op nasionale en internasionale vlak die hoof te bied.

Dit sluit in aspekte soos die toenemende integrasie van die globale waardeketting, veranderende verbruikersneigings, sterker mededinging en die behoefte aan transformasie.

Die verslag dek ook die kwessie van breë basis swart ekonomiese bemagtiging en grondhervorming, landelike ontwikkeling, die verhouding met die Regering, navorsing en ontwikkeling sowel as inligting- en tegnologieoordrag en bemarking van vrugte.

4 Februarie 2005