Landbou
Lone: Besluite 'reeds geneem'
JEAN-MARIE DE WAAL

Daar was glo meer as 'n honderd mense wat by die Departement van Arbeid se loonverhoor in die Paarl opgedaag het. Landbouverenigings van regoor die Wes-Kaap het verteenwoordigers gestuur om die werkgewer se standpunt te stel.

Die sigbaarste leemte by hierdie verhore was egter die oënskynlik geringe verteenwoordiging wat plaaswerkers geniet het, het mnr. Jack van Dyk van die Kaapse Kaapse Agri-werkers Organisasie (CAWO) en verteenwoordiger van Agri Wes-Kaap tydens die verhore.

Daar was volgens hom verskeie voorleggings gemaak. Die CAWO het daarop gewys dat die betrokkenes reeds vyf jaar lank hieroor onderhandel." 'n Jaar gelede is konsensus op die hoogste vlak bereik," het hy gesê.

Hy sê die Minister van Arbeid het op grond van dié konsensus in Februarie verlede jaar die taakspan se verslag na die Kommissie vir Diensvoorwaardes verwys om die probleemgebiede in die sektorale vasstelling vir plaaswerkers te hersien. Volgens hom was van die grootste besware teen die vasstelling dat daar nie 'n praktiese uitkoms vir werkgewers is wat weens toestande verhinder word om aan die bepalings van die wet te voldoen nie.

"Die wet maak wel voorsiening vir vrystelling, maar dit vereis dat iemand wat daarvoor aansoek doen, finansiële state soos voorsien in die Maatskappyewet aan die departement moet voorgelê", het hy gesê. Van Dyk sê 'n boer se huige finansiële probleme sal eers in toekomstige finansiële state weerspieël word. Boonop is die meeste boere in elk geval as eenmansake nie onderworpe aan die vereistes ten opsigte van verslagdoening van die Maatskappyewet nie.

Hy sê ten spyte van verskeie tekortkominge, was hierdie verhoor meer sinvol as voriges. Hy glo egter nie die posisie sal verander nie, "want die wet staan steeds op die wetboek en die verhoging op 1 Maart sal voortgaan". Volgens hom was nie een van die Kommissie vir Diensvoorwaardes se lede by die verhoor teenwoordig nie.

Mev. Ida Jacobs van die projek Women on Farms sê die 10 % vir behuising wat 'n werkgewer van sy werknemer se loon kan aftrek, moet afgeskaf word. In hierdie organisasie se gesamentlike voorlegging met Sikhulu Sonke, 'n lid-organisasie vir plaaswerkers, is gevra dat daar weggedoen word met tweevlak-lone en dat alle plaaswerkers dieselfde loon verdien soos voorgestel in Area A met die verhoging van 9 % per jaar. Hierdie organisasies wil ook hê dat die bepaling moet bly waar die werkgewer 'n volle loon betaal vir 27 ure se werk per week asof daar 45 ure gewerk is.

4 Maart 2005