'n Opvolgverslag deur die Suid-Afrikaanse Menseregtekommissie wat aan die parlementêre komitee vir grond en omgewingsake voorgelê is, het groot ongelukkigheid onder lede van die komitee veroorsaak.
Dié verslag dui die huidige situasie van plaaswerkers aan nadat die kommissie sy navorsing in 2003 bekend gemaak het.
Lede van die komitee het besluit om die kwessie van plaaswerkers op die hoogste vlak te bespreek.
Mnr. Cameron Jacobs, 'n navorser van ekonomiese en sosiale regte van die Menseregtekommissie, sê arbeidskontrakte (of afwesigheid daarvan) wek groot kommer.
Hy het navorsing in Noordwes navorsing gedoen en sê daaruit blyk dit asof die grootste inbraak op die vryheid van plaaswerkers die historiese paternalistiese of ouer-kind verhouding is wat nog tussen talle boere en hul plaaswerkers bestaan.
Hy waarsku boere om versigtig te wees as hulle arbeidskonsultante raadpleeg. Volgens die sektorale vasstelling vir die plaaswerkersektor van die Wet op Basiese Diensvoorwaardes mag slegs 10 % van lone vir behuising afgetrek word. Hy sê daar is pogings om dié wetgewing te omseil, byvoorbeeld waar boere plaaslike werkers met onwettige immigrante deur middel van 'n korporatiewe permit vervang.
Hy sê 'n dienskontrak mag nie bepaal dat die dienstermyn verstryk wanneer die plaaswerker 60 jaar oud word nie.
Volgens hom is 'n vrywaringsklousule wat die boer kwytskeld van enige besering wat deur die plaaswerker opgedoen word, onwettig.
Eerw. Peter Moatshe, voorsitter van die komitee, meen plaaswerkers is dikwels die "eiendom" van boere. Hy sê al het die Menseregtekommissie nie noodwendig tande nie, kan die parlementêre komitee beslis "byt".
17 Junie 2005