Sedert die Land Bank in die begin van die jaar sy uitleenrentekoerse verhoog het, het private banke reeds talle boere se lenings by hom oorgeneem. Net in die Oos-Kaap het een bank reeds lenings van meer as R100 miljoen aan boere toegestaan wat voorheen klante van die Land Bank was.
Mnr. Kobus Crouse, landboubestuurder van Eerste Nasionale Bank in die Oos-Kaap, het aan Landbouweekblad gesê sy bankgroep ontvang nog weekliks navrae van boere wat lenings wil omskakel omdat die koers wat die Land Bank vra, steeds hoër is as wat by sommige banke beding kan word.
Sy bankgroep het intussen 'n produk, Agri Pro, in dié provinsie bekend gestel. Dit behels die verskaffing van 'n kredietgerief aan boere om by bepaalde verskaffers produksiemiddele, soos kunsmis en verpakkingsmateriaal, te koop.
Die klant beding met die bankgroep 'n gunstige rentekoers vir 'n oortrokke rekening. Wanneer hy 'n verskaffer van produksiemiddele nader, kan hy op 'n beter prys aandring aangesien die bank die betaling van die rekening waarborg. Vir die verskaffers beteken dit minder boekwerk omdat hul rekeningstelsels aan dié van die bankgroep gekoppel is en geld regstreeks in hul rekening betaal kan word.
"Dit verseker nie net meer bedingingsmag vir die boer nie, maar kan hy ook sy oes nou deur enige instansie van sy keuse bemark. Dit is omdat hy nie meer aan die koöperasie of maatskappy waar hy voorheen vir 'n produksielening aansoek moes doen, uitgelewer is nie."
Crouse sê sy bankgroep is nou betrokke met die toestaan van lenings aan opkomende boere wat ingevolge AgriSEB-voorstelle bemagtig word. "Daar is 'n optimistiese gees onder Oos-Kaapse boere wat graag by suksesvolle grondhervorming betrokke wil raak. Die uitdaging is egter om die opkomende boere ook met finansiële kundigheid toe te rus."
"In die algemeen gaan dit tans relatief goed met die landbou in die Oos-Kaap. Vleispryse is goed, terwyl hoenderboere van oor tot oor glimlag. Hoewel die vesel-, graan en melkprodusente nog onder druk verkeer, is daar aanduidings dat hul pryse teen die einde van die jaar eerder sal verbeter as verder verswak. Vir diegene wat die mark reg lees, is daar uitstekende geleenthede wat wink," het Crouse gesê.
19 Augustus 2005