Landbou
Biologiese boerdery verg kopskuif
ANDRIES GROENEWALD

Die grootste enkele probleem met biologiese boerdery is dat dit 'n groot paradigmaskuif verg, sê mnr. John Fair van die SA Biofarm Institute.

Fair het op die Biologiese Boerdery-forum in Pretoria gesê biologiese boerdery is nie bloot net winsgewender nie, maar dit is ook meer volhoubaar en minder riskant as tradisionele kommersiële boerderypraktyke. Daarby verminder biologiese boerderypraktyke die koste van produksiemiddele op die langer termyn, dit verhoog opbrengs en wins én is boonop meer pret.

Vir 'n suksesvolle biologiese boerdery is dit belangrik om die grond volgens ten minste 21 maatstawwe te toets en te balanseer, om slegs bemestingstowwe te gebruik wat nie die grond sal benadeel nie, die minimum landbou-chemikalieë toe te dien, om gesonde grondbewerkingspraktyke toe te pas, om peulgewasse in wisselboustelsels te gebruik en om kompos en kompostee toe te dien.

In 'n sekere mate kan biologiese boerdery beskou word as die pad na organiese boerdery, wat tans die vinnigste groeiende landboubedryf is. Biologiese boerdery roem hom op laer bemestings- en chemiese koste asook produkte wat ryk is aan minerale. Organiese boerdery roem weer op premies wat vir produkte betaal word en produkte wat vry is van chemiese residu's. Dié produkte word verbou met die volhoubaarheid van die omgewing as uitgangspunt, sê Fair.

26 Augustus 2005