Landbou
GM-aartappel vir SA op pad


'n Aartappelkultivar met weerstand teen aartappelmot is tans in 'n gevorderde stadium van ontwikkeling in Suid-Afrika.

Dr. Dave Keetch, voorsitter van Aartappels SA se strategiese komitee vir aartappels en aartappelprodukte, het op die kongres van Aartappels SA in Pretoria gesê geneties gemodifiseerde (GM) gewasse, soos mielies, katoen en sojabone wat teen onkruiddoder bestand is en mielies wat nie deur sekere insekte beskadig word nie, word kommersieel in Suid-Afrika verbou. Daar is egter nog nie GM aartappels nie.

Die Michigan State universiteit, wat deur die Amerikaanse agentskap vir internasionale ontwikkeling (USAID) gefinansier word, het in 1992 met navorsing vir die ontwikkeling van aartappelmot weerstandbiedende kultivars begin. Die vordering is al só goed dat die universiteit en die LNR se Instituut vir Groente en Sierplante nou inligting insamel wat nodig is vir goedkeuring om hierdie GM kultivar kommersieel in Suid-Afrika te verbou.

Hy sê dié kultivar sal nie slegs help om skade en verlies weens aartappelmot te verminder nie, maar sal ook die behoefte aan plaagdoders laat afneem. Dit sal omgewingsbesoedeling, plaagdoderresidue en produksiekoste verlaag.

Proewe met die GM aartappel vorder goed. Vier jaar se veldproewe is in Suid-Afrika voltooi en 'n weerstandsrekord van 100 % teen aartappelmot is in al die veld- en opbergingsproewe behaal, sonder die gebruik van plaagdoders. Aandag word nou aan tegniese ontwikkeling, veiligheidstoetsing, die sosiaal-ekonomiese impak, toegang tot lisensies vir die tegnologie en bemarking gegee.

Keetch sê die aanvanklike doelwit was om die GM kultivar aan opkomende boere te voorsien, maar belangstelling onder kommersiële boere is ook groot.

Die LNR het reeds die weerstandseienskap (Bt-geen) suksesvol in gewilde kultivars ingeteel. Veldproewe met hierdie kultivars sal na verwagting eersdaags begin.

Die Suid-Afrikaanse aartappelbedryf ondersteun die gebruik van moderne bio-tegnologie op voorwaarde dat die produkte aan alle amptelike vereistes voldoen soos die wet bepaal.

30 September 2005