Landbou
ASA se geldprobleme is verby


Aartappels Suid-Afrika se finansiële probleme is iets van die verlede, sê mnr. Frank Lawrence, uittredende voorsitter van die organisasie.

"Nou kan ons op die kernrede vir ons bestaan fokus, naamlik om die bedryf te laat groei," het hy gesê. Die statutêre heffing wat deur die Regering toegestaan is, is belangrik vir finansiële sekuriteit, maar 'n statutêre heffing is op sigself nie 'n doelwit nie.

"Die doelwit is om waarde toe te voeg vir die produsent en die bedryf. Ons moet uit die verlede leer en nie weer dieselfde foute maak nie. Ons moenie burokrasieë skep nie, maar deurlopend waarde vir geld bied, onsself voortdurend meet om te bepaal of ons dit bereik en oop kommunikasiekanale in stand hou," het hy gesê.

Hy meen Aartappels SA moet 'n deursigtige organisasie bly wat vir die hele bedryf omgee.

30 September 2005