Die invloed van klimaatsverandering is nie meer iets waaroor bespiegel kan word nie dit is 'n werklikheid. En as die klimaat eers begin verander het, is die gevolg daarvan blywend, het mnr. Peter Johnston van die Universiteit van Kaapstad se klimaatstelsel-ontledingsgroep (CSAG) op George gesê.
Johnston was 'n genooide spreker op 'n inligtingsdag wat by die proefplaas Outeniqua van die Departement van Landbou op George gehou is. Volgens hom is aanduidings dat temperature in die wêreld tot soveel as 5,8 °C teen die jaar 2100 gaan styg en dat die seevlakke in dieselfde tyd tot soveel as 0,9 m gaan styg. 'n Temperatuurstyging van 1 °C kan die gevaar vir brande met tot 29 % laat styg. In die laaste 1 000 jaar het temperature op aarde slegs effens verander, maar in die laaste eeu vind dit baie vinniger plaas.
Johnston sê hoewel die voorspelling van klimaat 'n ingewikkelde wetenskap is, waarsku wetenskaplikes dat veranderinge op lang termyn in die Wes-Kaap se reënvalpatrone en temperature deur verskillende modelle voorspel word. Dit kan 'n groot impak op die landbou hê. "Die uitdaging vir boere lê daarin dat hulle by die verwagte veranderings en risiko's sal moet aanpas."
Voorspellings vir die volgende 50 jaar dui daarop dat boere selfs meer vloede en droogtes alles tekens van klimaatsverandering kan verwag.
Sterk bewyse bestaan dat veral reënvalpatrone en temperatuur heelwat verander. Vir boere kan dit slegte nuus beteken. As boere wil aanhou boer en selfs voordele uit die veranderinge wil trek, moet hulle ingelig wees oor elke aspek van hul boerdery, meen hy.
"Dit is belangrik dat boere bewus is van wisselwerking tussen die klimaat en die gewasse wat hulle verbou. Hoewel die Wes-Kaap vanjaar meer reën gekry het, is dit geen aanduiding dat die klimaat besig is om terug te keer na 'normale' winterweerpatrone nie. Vergelykings tussen reënval en koringopbrengs toon dat die grootte van die koringoes afhang van die tyd wat die reën geval het. Dit dui op sekere kritieke maande wanneer dit genoeg moet reën om 'n goeie opbrengs te verseker."
Johnston meen die intensiteit van reënval en die aantal reëndae is ewe belangrik Boere moet nou reeds besin oor hoe hulle hul oeste se blootstelling aan die weer kan verminder, asook wat hulle gaan doen as dit warmer en droër word. "Daar is risiko verbonde is aan 'n wisselende klimaat. Boere moet weet hoe goed hul gewasse vir 'n hoër temperatuur en 'n laer algemene reënval aangepas is."
7 Oktober 2005