Landbou
'Skaal af en spaar'
MARLEEN SMITH

Suid-Afrikaners moet hul luukse lewenstyle afskaal en begin spaar.

"Ons het die afgelope tien jaar ontsettend materialisties geword. Skaal af of raak daarvan ontslae," het prof. Matthew Lester, 'n geoktrooieerde rekenmeester en hoogleraar in rekeningkunde aan die Universiteit van Grahamstad, op Senwes se jongboeredag op die Oesdagplaas by Bothaville gewaarsku.

"Ons het vergeet hoe om te spaar, want ons geniet ons lewens te veel. Ons móét begin spaar. Ons kan nie meer elke sent op selfone bestee nie. Boonop gáán eiendomspryse een of ander tyd begin daal."

Belasting is nie deesdae die belangrikste kwessie waaroor Suid-Afrikaanse verbruikers hulle moet bekommer nie, maar eerder hul uitspattige lewenstyl, sê Lester.

"Motors, selfone, studentemotors, kinders se wegbreekjaar (ná matriek), universiteitsgeld, studente wat weer by ma en pa intrek nadat hulle graad gevang het — ons gesinne roei ons uit."

Voorts neem Suid-Afrikaners nie in ag wat hul gewoontes hulle kos nie. "Vir elke nege sigarette wat jy rook, rook jy elf vir (mnr.) Trevor (Manuel, Minister van Finansies)."

Eiendomme en hul onderhoudskoste is nóg 'n sondaar. Munisipale heffings, duur honde wat vir beveiliging aangeskaf moet word, hondekos, versekering, DStv, telefone — dit alles dra tot buitensporige koste by.

"In die verlede was 'n huiseienaar se grootste bekommernis sy betaling op sy verband. Nou is dit onderhoudskoste."

'n Onlangse berekening wat vir 'n huiseienaar in Kaapstad gedoen is, het getoon dat sy eiendom met 'n waarde van R3 miljoen hom jaarliks ook R3 miljoen aan koste uit die sak jaag. Eienaars behoort sulke koste in berekening te bring om waardestygings in hul eiendom in die regte perspektief te stel, sê Lester.

As 'n nuwe voertuig gekoop word, moet nie net die aankoopprys in ag geneem word nie, maar ook die brandstofverbruik, want stygende oliepryse is hier om te bly.

Lester wys daarop dat die oliekrisis al in 2003 begin het. Die sterk rand het dit egter vir Suid-Afrikaners versluier. Nou kan versterkings in die rand nie meer met die skrikwekkende prysverhogings tred hou nie.

"Die olie-probleem is hier om te bly. Ons kan nie gou genoeg olie uit die grond haal nie, en die gehalte van die ontginde produk is nie meer wat dit was nie."

Dié faktore gaan nog minstens die volgende vyf jaar opwaartse druk op die prys plaas. Teen 2010 gaan die olieprys die merk van 100 dollar per vat verbysteek, meen hy.

Suid-Afrikaners moenie glo dat Sasol hulle hiervan gaan red nie, want Sasol-pryse sal nie laer as internasionale brandstofpryse vasgestel word nie. "Al hoe 'n mens uit Sasol gaan baat vind, is as hy aandele in die maatskappy besit."

Verbruikers moet ook nie hul hoop op die Regering se verhoogde belasting-invordering plaas nie. "Trevor Manuel gaan waarskynlik sy mikpunt (vir belasting-invordering) ver verbysteek, maar dit gaan nie op julle (die belastingbetalers) bestee word nie."

"Die Regering wil in die volgende vyf jaar R185 miljard aan die heropbou van Suid-Afrika se infrastruktuur bestee. Dit beteken daar gaan nie veel geld na die provinsiale en plaaslike (regerings) vlak gekanaliseer word nie," het Lester gesê.

14 Oktober 2005