Die staat het nie voldoende vermoë om hervorming te laat slaag nie. Dialoog en vennootskappe met belanghebbendes, soos Agri SA, is nodig om die mikpunt van 30 % landbougrond in swart hande teen 2014 te laat slaag.
Met dié woorde het me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, op Agri SA se kongres na die organisasie uitgereik om te help om grondhervorming en bemagtiging te laat slaag. Sy het daarop gewys dat transformasie binne die sektor nie vertraag of vermy kan word nie en dat dit beter sal wees om dit binne 'n vennootskap aan te pak.
"Agri SA moet help om in die breë oplossings te vind, die rigting help bepaal en die plan aan sy affiliasies te verkoop. Die implementering lê dan op ander vlakke, soos by die provinsies en kommoditeitsgroepe."
Sy sê die sektorplan vir landbou het 'n raamwerk geskep wat uitspel waartoe almal hulle verbind het om 'n verenigde, voorspoedige en mededingende landbousektor in Suid-Afrika te verseker. In dié plan is dit duidelik dat die visie net verwesenlik kan word as kwessies oor transformasie, soos toegang en deelname van voorheen benadeeldes, menslike hulpbronontwikkeling en arbeidsverhoudinge, beleggings in navorsing en ontwikkeling en beleggings in dié sektor, in die algemeen aangepak word. Niemand kan dit sonder 'n mate van samewerking van die ander partye doen nie.
Didiza sê van die grootste uitdagings by grondhervorming is die tydsverloop om grond deur onderhandelings te bekom en die gebrek aan 'n meganisme om kopers en verkopers byeen te bring. Sy het die Inkezo-program van die suikerbedryf as 'n oplossing voorgehou. Met dié program tree die bedryf as tussenganger op om grond en kopers te identifiseer en prosesse te bespoedig.
"Daardeur is verbintenisse met die Departement van Grondsake en finansiële instellings geskep wat onontbeerlik is vir die sukses van die program". Sy wys daarop dat die staat verlede jaar R14 miljoen aan Inkezo bewillig het en vanjaar 'n verdere R36 miljoen.
Sy het ook na die nasionale Grondberaad verwys en gesê dit is jammer dat die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper ander aanbevelings oorskadu het - soos dat daar weer na die grondwetlike meganismes soos vervat in Artikel 25 gekyk moet word en die moontlikheid van belasting op onbenutte grond.
28 Oktober 2005