Landbou
EU voedselwet naby
JEAN-MARIE DE WAAL

Die Europese Unie se algemene Voedselwet (Wet 178 van 2002) tree in Januarie in werking en dr. Gerrit Bruwer van die Raad van Toesig op die Uitvoer van Bederfbare Produkte (PPECB) waarsku Suid-Afrikaanse produsente om kennis te neem, want "hulle gaan nie weet wat hulle tref nie".

Dié wet wil verseker dat produsente met voer en voedsel, dieregesondheid en dierewelsyn aan standaarde voldoen.

Bruwer het op die Suid-Afrikaanse Agri-akademie se konferensie oor marktoegang vir Afrika se landbouprodukte gesê selfs al word aan wetgewing voldoen, bepaal groothandelaars steeds die vereistes. Hulle vereistes is gewoonlik hoër as wat deur wetgewing verlang word.

Volgens hom kan produsente mededingender wees as hulle aan standaarde vir voedselveiligheid voldoen. Hy sê egter 'n behoefte bestaan om standaarde, soos Eurepgap en verskeie sertifikasies, te harmoniseer. "Net om 'n pakhuis te sertifiseer, kan 'n boer sowat R100 000 kos."

"Standaarde is daar om 'n produsent se risiko's te verminder, maar dit is besig om risiko's te vermeerder," meen hy.

Hierdie maand tree die standaard ISO 22 000 in werking. Voedselverskaffers kan dit gebruik as 'n ooreenstemmende maatreël vir die voldoening aan internasionale standaarde. Bruwer sê daar moet egter gesien word of ooreenstemmige standaarde werklik deur betrokkenes, soos kettingwinkels, aanvaar gaan word.

Hy sê die produsent moet van sy eie voedselveiligheidomgewing kennis neem. "Die groente- en vrugtebedryf is nou eers besig om aan dieselfde standaarde te voldoen waaraan die vleisbedryf reeds 'n geruime tyd voldoen."

Mnr. Thomas Mabesa, die direkteur van die PPECB se inisiatief vir 'n landbou-gifstowweprogram (SAPIP), het bepleit dat iemand hom moet wys wáár al die opkomende boere is. Pogings word aangewend om 'n databasis van opkomende boere te stig. Hy sê grondhervorming het groot getalle opkomende boere gevestig, maar geen organisasie of die Regering kan sê waar en wie hierdie boere is nie.

SAPIP is gestig om uitvoerders met uitvoerstandaarde te help en chemiese residue op vrugte en groente te verminder.

18 November 2005