Die inmaakmaatskappy wat op 1 November tot stand gekom het, Langeberg & Ashton Foods Ltd., sal nie sy kleiner kontrakte verwaarloos nie, het mnr. Nassos Martalas, hoofbestuurder van Langeberg Foods International, op Worcester gesê.
Martalas was die genooide spreker op 'n vergadering van die Inmaakvrugte-produsentevereniging (IPV). Hy sê die nuwe maatskappy is op groei ingestel, maar sal nie net op die groter kontrakte fokus en daardeur sy kleiner kontrakte verwaarloos nie. Volgens hom is almal belangrik vir dié nuwe maatskappy wat een van die grootste inmaakfabrieke van perskes in die wêreld het.
Tans is wêreldwyd groot konsolidasies aan die gang wat inmaakfabrieke betref, en Suid-Afrika is geen uitsondering nie. In Suid-Afrika was daar 20 jaar gelede 15 inmaakfabrieke. Dit het tot vier gekrimp. In Griekeland, een van die grootste produsente van ingelegde vrugte ter wêreld, het dié getal van 30 tot12 oor die laaste twee dekades gekrimp.
Langeberg & Ashton Foods se nuwe fabriek sal jaarliks 140 000 ton vrugte inneem, ses miljoen kartonhouers inmaakvrugte produseer en 'n omset van R900 miljoen hê. Daar sal aan 400 mense werk verskaf word en aan 6 000 mense seisoenale werk.
Martalas sê die produsente het die laaste jaar of twee die ergste spit afgebyt weens die sterk rand. "Daarom is dit een van die nuwe maatskappy se doelstellings om die kostebasis van inmaakvrugte te verbeter. Deur tot 20 % meer mededingend ten opsigte van prys te word, kan groot nuwe markte geopen word. China, Indië, Oos-Europa, die Midde-Ooste en Afrika bied almal geleenthede vir nuwe markte. Geleenthede bestaan om oorsese markte te verdubbel veral in Indië."
Hy meen 'n bekommernis is dat nie ál die verwerkers in die land hul kontrakte noukeurig nakom nie. "Só word 'n 'eie manier van betaling' aan die produsente deur een van die verwerkers bedryf. Dit destabiliseer die hele bedryf, want daar moet eenvormigheid wees wat betalings betref, anders kom mededingendheid in gedrang."
Martalas sê produksiekoste moet oor die hele ketting verminder word om die uitvoermarkte behoorlik te kan benut. Almal sal hand in eie boesem moet steek vir oorlewing vir die hele bedryf.
Chili as mededinger het 'n landbou-vriendelike regering, maar hy meen Suid-Afrika het steeds 'n voorsprong weens sy gehaltevrugte.
18 November 2005