Landbou
Geld en grond nodig
NICO VAN BURICK

"Soos ons vriende noord van ons sê — die grond moet kom, en ons hoef nie verskoning daarvoor te vra nie." Met dié stelling het mnr. Motsepe Matlala, voorsitter van die National African Farmers' Union (Nafu), sy organisasie se standpunt op die AgriSEB-indaba by die Gallagher-landgoed in Midrand gestel.

Hy het gesê vir swart ekonomiese bemagtiging (SEB) in die landbou om sinvol en suksesvol te wees, moet daar voldoende finansiering en grond vir swart boere wees. "Ons kan oor ál die syfers en teikens saamstem, maar as daar nie toegewysde geldelike steun is vir swartes om aandele en beheer in agribesigheid se waardeketting te bekom nie, sal dit 'n mislukking wees."

Hy het gesê die Regering se Mafisa-hulpskema moet meer wees as 'n skema vir produksielenings. Dit moet omskep word in 'n finansieringsfasiliteit binne die agribesigheidswaardeketting, met 'n minimumperk van R500 000 vir entrepeneurs wat kwalifiseer. Hy het hom ook uitgespreek teen die gefragmenteerde hulpprogramme vir nuwe boere.

Oor grond het hy gesê baie swart boere word gesekwistreer deur finansieringsinstellings, insluitend die Land Bank. Dit gebeur omdat boere nie hulle verbande kan betaal nie omdat grond duur is. Om dit te verhoed, is Nafu 'n voorstander daarvan dat die Regering grond in die ope mark moet koop en dit dan op die grondslag van verhuring, bruikhuur of die verdeling van oeste aan swart boere beskikbaar moet stel.

"Wanneer swart boere dan voldoende reserwes het, kan hulle die grond koop. Natuurlik beteken dit dat diegene wat die grond besit, bereid moet wees om dit beskikbaar te stel."

Matlala het ook gesê Nafu distansieer homself van 'n voetnota in die konsepdokument wat verwys na die beginsel van gewillige verkoper, gewillige koper wat steeds geld. Hy het gesê daar moet seker gemaak word dat die vooruitgang wat op die nasionale grondberaad gemaak is, nie omgekeer word nie.

Mnr. Masiphula Mbongwa, Direkteur-Geneaar van Landbou, het verduidelik dat dit steeds die Regering se amptelike beleid is, hoewel dit hersien word en dalk kan verander.

16 Desember 2005