Landbou
Namakwalanders wil eie grondberaad hou


Namakwalandse boere wil vroeg in die nuwe jaar hul eie grondberaad hou omdat die situasie van grondbesit en -gebruik in hul gebied aansienlik van die res van die Noord-Kaap én ander provinsies verskil.

In dié noordwestelike deel van die Noord-Kaap is sowat 2,7 miljoen hektaar — net oor die helfte van die totale grondoppervlakte - in die besit van wit boere. Bruin boere het regte op bykans 'n derde (sowat 1,88 miljoen hektaar) van die grond. Dit word in hierdie stadium deur die staat in trust gehou. Meer as 317 000 hektaar daarvan is sedert 1994 as deel van die Regering se herverdelingsprogram bygevoeg. Die grond word hoofsaaklik vir kommunale veeboerdery gebruik.

Wit én bruin boere is daarvan oortuig dat hulle nie vir die Regering moet wag om grondhervorming en die opleiding van kommersiële boere te laat plaasvind nie. "Ons moet dit in belang van ons eie toekoms doen," het mnr. Weich van Niekerk van die boerevereniging Boesmanland op Agri Namakwaland se algemene jaarvergadering op Springbok gesê. "As ons niks doen nie en vir die staat wag, gaan ons oor 15 jaar steeds sit waar ons nou is."

Hulle glo dit is belangrik dat Namakwalandse boere, Noord-Kaapse regeringsamptenare, plaaslike munisipale amptenare sowel as navorsers van Plaas (die Universiteit van Wes-Kaapland se program vir grond- en landelike studies) en die Surplus Peoples Project byeenkom en oplossings soek.

"Ons gaan nie oplossings vir Namakwalandse grondkwessies in Kimberley kry nie. Ons moet hulle op Rooifontein, Kharkams en Komaggas (kommunale gebiede) soek," glo mnr. Cornelis van der Westhuizen, voorsitter van Agri Namakwaland. "Dis ook tyd dat ons ontslae raak van die wye gaping wat daar tussen Agri Namakwaland en sekere van die kommunale boere se organisasies is en een organisasie vorm."

Mnr. Lionel Cloete, voorsitter van die landelike boerevereniging, sê hy gaan akkoord met dié gedagte, solank niemand uitgesluit word nie.

'n Boer van Komaggas het die dilemma waarin die kommunale stelsel boere plaas, verduidelik: "Almal wat vee aanhou, wil graag grond hê, maar nie almal is boere nie. Daar is mense wat suksesvol kan boer, maar hulle word gekortwiek deur die mense wat ses bokke aanhou. Dit is 'n netwerk van armoede en moeilik om uit daardie web te kom. Ons moet mense identifiseer wat wil boer en 'n sukses daarvan kan maak. Ons moet kyk hoe ons dié mense kan help."

Dis presies wat Van der Westhuizen ook glo gedoen moet word, naamlik dat daar 'n "nuwe korps kommersiële boere" gevestig word uit alle rasse van die land. "Die fokus op plaaslike vlak moet die koördinering van inligting, kundigheid, menslike kapitaal en geld wees om dit te laat slaag."

Mnr. Tertius Archer van die plaas Pedroskloof, Kamieskroon, het gesê goeie buurmanskap is van kardinale belang: "Hoeveel gevestigde boere steek hand uit? Hoeveel boere verskaf teelmateriaal aan hul buurboere?" Hy glo boere wat reeds op dié manier help, behoort erkenning te kry op die beoogde grondberaad.

'n Komitee met lede van verskillende boereverenigings wat deel is van Agri Namakwaland is saamgestel om die grondberaad te organiseer.

6 Januarie 2006