Die Grondbonebedryf het 'n "voorwaartse stap geneem" met die bekendstelling van 'n praktiese werkbare handleiding vir boere om aan standaarde vir voedselveiligheid te voldoen.
Terselfdertyd het die Grondboneverwerkers- en handelaarsassosiasie ook 'n handleiding bekend gestel vir verwerkers van dié graansoort. Hierdie handleidings bring mee dat boere en verwerkers toegerus is om die uitvoermark te betree.
Mnr. Jan du Preez, voorsitter van die Grondboneforum, het op die bekendstelling in Pretoria gesê grondboneproduksie het in die jare 30 in die land begin momentum kry en in die 1950's is 'n oorskot geproduseer. Daarna is bemarkingswetgewing ingespan om oorskotte uit te voer en in die laat 1960's en 1970's was Suid-Afrika die grootste grondboon-uitvoerder. Die land het toe 15 % van die uitvoermark gehad. "Met groter internasionale mededinging en 'n gedereguleerde mark het produksie egter gedaal en sake ietwat agteruitgegaan," het Du Preez gesê.
Daarby het invoerlande begin sê uitvoerders sal aan standaarde vir voedselveiligheid moet voldoen. Du Preez sê hoewel dit 'n groot uitdaging en koste-implikasie inhou, dit ook geleenthede, soos vir nuwe markte, skep.
Mnr. Nico Vermaak, hoofbestuurslid van Graan Suid-Afrika wat 'n dryfkrag vir die gids oor voedselveiligheid was, sê voldoening aan voedselstandaarde beteken boere gaan geoudit word en daarom moet hulle 'n goeie boekhoustelsel hê. Hy sê die nuwe gids help om die proses te vergemaklik. Die doel van die gids is om die boer in staat te stel om te kan presteer in sy boerdery.
Die gids is in Afrikaans en Engels beskikbaar. Meer inligting daaroor is op Graan SA se webwerf, www.graansa.co.za, beskikbaar.
20 Januarie 2005