Landbou
Klimaatsverandering nou 'n werklikheid
ANDRIES GOUWS

Die meetbare vlakke van koolstofdioksied in die atmosfeer en ander klimaatsveranderinge is nou bokant die lyn van onsekerheid. Dit is nou 'n feit, het prof. Roland Schulze van die Universiteit van KwaZulu-Natal op die kongres gesê.

Dit word beslis warmer en die reënpatroon verander. Dit gaan groeiseisoene en -patrone van plante verander. Plantsoorte, die beskikbaarheid van besproeiingswater en die voorkoms van plae gaan verander.

Daarom sal navorsers na meer as net reënval, hitte en gewasproduksie moet kyk. Daar sal globaal na alles wat die landbou raak, gekyk moet word om oplossings te vind.

Dr. Koelen Vogel van die Universiteit van die Witwatersrand stem hiermee saam en sê die tyd loop uit en talle Suider-Afrikaanse lande kan weens klimaatsverandering waternood verwag.

Die landbou sit met meer probleme as net klimaatsverandering. Al dié komplekse risiko's moet saam bestuur word. Die owerhede vra wetenskaplikes waar geld bestee moet word vir dié bestuur en dan moet die navorsers hul koppe op die spreekwoordelik blok kan sit.

Wetenskaplikes moet terugstaan en kyk waar hulle staan en help om jong navorsers toe te rus om werk te doen wat werklik aktueel en toepaslik is.

Sy glo byvoorbeeld die Regering se beleid om wegspringpakkies ("starter packs") aan opkomende boere te gee, dalk nie die regte pad is nie. Navorsers moet die Regering bystaan om te bepaal wie hoe gehelp moet en kan word.

10 Februarie 2006