'n Unieke rekenaarprogram om elke dag se plaasbedrywighede te bepaal, is oor 'n tydperk van nege jaar op die plaas van die nasionale Boer van die Jaar, mnr. Casper Badenhorst van Hluhluwe, ontwikkel.
Mnr. Len Heard, 'n rekenaarkenner en buurman van Badenhorst, het die program Farm Management ontwikkel om alle bedrywighede op die pynappelplaas te koördineer. Die program kan ook op enige ander gewasboerdery van toepassing gemaak word.
Die geïntegreerde bestuursplan definieer ál die boerderypraktyke, die vereistes waaraan dit moet voldoen en die onderskeie prosedures. Elke dag word 'n lys van take vir elke land voorsien en skriftelike instruksies deur die rekenaar aan elke werker uitgereik.
Nadat die take uitgevoer is, word daaroor verslag gedoen en die inligting weer in die rekenaar ingevoer. Die program maak voorsiening daarvoor dat outomaties aanpassings aan datums, take, voorrade en dosisse gemaak word, soos wat omstandighede verander.
"Wat beplanning en beheer betref, het Cassie (Badenhorst) na die perfekte boerdery gestreef. Dit moes totaal markgedrewe wees en niks moet op 'n mogge-troffe-wyse geskied nie. Daarom het hy die behoefte aan só 'n rekenaarprogram raakgesien," sê Heard.
Die pynappelboerdery is 'n rotasieboerdery waar daar elke week sowat 3 ha pynappels geoes en 3 ha nuwe pynappels geplant word sodat daar regdeur die jaar aan die mark voorsien kan word. "Dit is 'n presisie-boerdery waar bemesting en plaagbestryding op presies die regte tyd moet geskied. Om al die bedrywighede in die onderskeie lande te koördineer en te bestuur, is ingewikkeld. Deur die rekenaarprogram is dit nou moontlik."
Met die program word ook rekord gehou van hoeveelhede wat geoes word, afleweringsnota's word uitgereik en daar word tred gehou met verkope en pryse.
10 Februarie 2006