Landbou
Wapenwet gewysig?
JEAN-MARIE DE WAAL

Wysigings aan die omstrede Wet op die Beheer van Vuurwapens sal moontlik in Mei deur die Parlement oorweeg word. Die voorgestelde wetsontwerp sal poog om knelpunte te hanteer wat deur belanghebbendes geïdentifiseer is.

Wetstoepassers het ook sekere netelige kwessies uitgewys wat deur die Parlement ondersoek sal word, het mnr. Trevor Bloem, direkteur van kommunikasie en mediaskakeling by die Departement van Veiligheid en Sekuriteit aan Landbouweekblad gesê. Hy sê die wysigingswetsontwerp sal, soos gewoonlik, eers in die Staatskoerant verskyn en die gebruiklike tydperk vir openbare kommentaar sal geld.

Mnr. Charles Nqakula, Minister van Veiligheid en Sekuriteit, het op 'n perskonferensie ter verduideliking van die Regering se plan vir gesamentlike en versnelde groei in Suid-Afrika (Asgisa) gesê die dele van die wet wat probleme veroorsaak, moet gehanteer word. Die administrasie van die wet self, asook die toeganklikheid en verstaanbaarheid daarvan, is as probleme uitgeken.

Hy het onlangse onderhandelings in Pretoria met belanghebbende partye by die Nasionale Vuurwapen Raadplegende Forum as "bruikbaar in die lig van die wysigings" bestempel.

Bloem sê op dié vergadering is onder meer aan Nqakula voorgestel om alle voorlaaiers en lugafweerwapens te dereguleer. Versamelaars het glo gevra faktore wat versameling beïnvloed, soos bewaring, verantwoordelike gebruik, beleggingswaarde en noodsaaklike kulturele waarde, moet in ag geneem word.

Daar is gevra die minister moet 'n spesiale seksie in die wet skep wat met beroepsjagters handel en jaglisensies van ander lande moet ook in Suid-Afrika geldig wees.

Sedert 1 Julie 2004 is 'n totaal van 144 639 vuurwapens glo ingevorder.

Pogings om landelike veiligheid en sekuriteit te bevorder is in die Begroting aangekondig. In die begrotingspos vir veiligheid en sekuriteit word in die komende medium termyn tot die 2008/09 boekjaar 'n bykomende R265 miljoen vir polisiereserviste opsy gesit. Die Departement van Veiligheid en Sekuriteit beoog om sowat 30 000 reserviste oor die volgende drie jaar aan te stel.

Volgens statistiek is daar sowat 30 000 SAPD-reserviste en sowat 50 000 kommandolede. Daar word gehoop die 30 000 nuwe aanstellings sal uit hierdie poel van reserviste en kommandolede kom.

24 Februarie 2006