Landbou
Subtropiese bedrywe span straks saam


Die kans word al hoe beter dat die belangrikste kwekersverenigings vir subtropiese vrugte in die provinsies Limpopo, Mpumalanga en KwaZulu-Natal hul kragte gaan saamsnoer.

Die Suid-Afrikaanse Avokadokwekersvereniging (SAAKV) het op sy jaarvergadering by die Magoebaskloof-hotel, naby Tzaneen, die groen lig gegee vir 'n samesmelting in één diensorganisasie wat na die onderskeie verenigings se individuele behoeftes sal omsien.

Mnr. Derek Donkin, bestuurder van die SAAKV en argitek van die beoogde samesmelting, sê in beginsel het die mango- en lietsjiekwekers reeds gunstig oor samewerking besluit. Hy sê die Suid-Afrikaanse Makadamiakwekersvereniging (SAMKV) behoort binne die volgende maand oor deelname te besluit.

"As die SAMKV nie kans sien vir eenwording met die drie ander verenigings nie, sal waarskynlik steeds voortgegaan word met die planne op die tafel. Daar is reeds in 2003 begin met die voetwerk vir hierdie samewerking."

'n Voorgestelde model vir integrasie maak voorsiening vir elke kwekersvereniging om steeds sy identiteit binne die nuwe organisasie te behou, maar dat gemeenskaplike sake gekoördineerd gehanteer word, sê Donkin.

3 Maart 2006