Landbou
Moratorium op grondbesit 'ongrondwetlik'
MALIXOLE GWATYU

SA het geen wet vir moratorium Uitsprake van 'n verbod op buitelandse grondbesit is dalk deur die Regering gebruik as 'n verkiesingsfoefie vir politieke gewin, meen die Demokratiese Alliansie. Dit volg na die Regering se ommeswaai in die Parlement, dat Suid-Afrikaanse wetgewing nie voorsiening maak vir 'n tussentydse verbod op die verkope van grond aan buitelanders nie.

"Daar is eenvoudig geen wetlike owerheid vir die instelling van 'n moratorium nie en dit sal 'n fundamentele impak op iemand se grondwetlik gewaarborgde regte hê," het mnr. Dirk du Toit, Adjunkminister van Landbou en Grondsake, gesê.

Hy het in die Nasionale Raad van Provinsies (NRP) geantwoord op 'n vraag van die DA aan me. Thoko Didiza, Minister van Landbou en Grondsake, of die Regering 'n moratorium gaan instel en of maatskappye, beslote korporasies, trusts en vennootskappe met nie-Suid-Afrikaners as lede later verbied gaan word om grond hier te koop.

Du Toit het verduidelik dat die ondersoekspan, wat in 2004 deur Didiza aangestel is om na beleidsvorming vir grondbesit deur buitelanders te kyk, se verslag voorlopig is en dat daar nog nie 'n definitiewe besluit geneem is nie.

Mnr. Maans Nel, die DA se woordvoerder oor grondsake, het die Regering se versekering dat geen verbod op grondbesit geplaas gaan word nie verwelkom. Hy het egter die Regering ook beskuldig van 'n verkiesingsfoefie. "Hoekom was dit nodig om R1 miljoen te bestee aan 'n ondersoek wat geen antwoorde op die grondkwessies op hande kan verskaf het nie?" wou hy weet.

Volgens die party was prof. Shadrack Gutto, voorsitter van die ondersoekspan, nie eens daarvan bewus dat die aanbeveling ten gunste van 'n moratorium nie wetlik geïmplementeer kan word nie. "Die enigste resultaat wat hulle gelewer het is om onnodige onsekerheid te skep en om broodnodige buitelandse beleggers af te skrik," het Nel gesê.

Volgens Du Toit bestaan daar wel 'n behoefte aan regulasies oor grondverkope aan buitelanders.

In talle ander lande geld die bekendmaking van kopers se besonderhede sowel as ministeriële goedkeuring as beheermaatreëls vir transaksies.

Die DA het gevra dat die Regering dringend alle besonderhede in die verband bekend moet maak indien hy nog beplan om beperkinge op buitelandse grondbesit te plaas.

17 Maart 2006