Landbou
Grondboonsiektes neem toe
CHARL VAN ROOYEN

Siektes by grondbone is aan die toeneem en kan produksie aan bande lê, het dr. Jan Dreyer, leier van grondboonnavorsing by die LNR se Instituut vir Graangewasse (IGG), op 'n grondbonebedryfsdag in Midrand gesê.

Blaarsiektes het byvoorbeeld die laaste vyf jaar toegeneem en kan 'n ernstige probleem vir sekere kultivars en groeiseisoene inhou. Daarom is dit navorsers se taak om die probleem te verklein, hetsy met chemikalieë of nuwe kultivars met weerstand. Toetse vir residue van chemikalieë gaan egter vorentoe uitgevoer word en 'n toename in die gebruik van plaagdoders kan die prys raak wat die boer ontvang.

Kultivartelers se mikpunt is nie net om die koste van produksie te verlaag nie, maar ook stabiele produksie te bewerkstellig. Teelprogramme toon mooi beloftes en weerstandige lyne is geïdentifiseer. Die eerste kruise is gedoen, maar dit kan nog lank duur om 'n nuwe kultivar te teel. Dit is moeilik om grondbone te modifiseer aangesien dit 'n "intelligente" gewas is wat 40 chromosome - nie veel minder nie as die mens se 46, maar baie meer as mielies se 20 - het.

Die blaarmyner raak ook 'n groter probleem en geen plaagdoder is nog ontwikkel om dit hok te slaan nie. Daar is gelukkig reeds teelmateriaal met 'n mate van weerstand.

Aalwurms is ook 'n vyand en verhoed die plant om water en voedingstowwe doeltreffend te benut. Soms is misvormde pitte die gevolg.

Dreyer sê biotegnologie speel 'n belangrike rol in navorsing en sal vorentoe nóg veld wen. Dit is egter nie noodwendig bekostigbaar nie. Dit maak egter uitstekende vordering moontlik.

16 Maart 2006