Landbou
OVK en VKB smelt nie saam
JEAN-MARIE DE WAAL

Die direksies van VKB en OVK het ná 'n lang onderhandelingsproses besluit om nie saam te smelt nie.

In 'n brief van die direksie van OVK aan sy lede blyk dit hy wil nie met die samesmelting voortgaan nie aangesien die direksie van VKB "verdeeld is oor die aangeleentheid en belangrike bedryfsbesluite agterweë gelaat word".

Mnr. Danie Marais, hoof uitvoerende beampte van VKB, sê die huidige ondernemingsvorm is aanvaarbaar vir sy lede en VKB sal nie na 'n maatskappy met 'n beleid van winsdeling omskep word nie tensy die behoefte by sy lede ontstaan.

Volgens hom gaan aandag nou eerder gevestig word op die visie van die koöperasie wat onder meer deurlopende beheer deur VKB se lede meld. Verder moet VKB "herstel word tot die lewenskragtige en winsgewende onderneming wat dit was en in 'n mate steeds is". VKB se direksie en bestuur moet voorts fokus op die bestuur van die onderneming en nie "aansluiting by ander partye soek nie".

Hy meen daar moet gepoog word om nie-winsgewende takke winsgewend te kry. 'n Herstruktureringsproses hiervoor is volgens Marais nou afgehandel.

Mnr. Hardy van Niekerk, besturende direkteur van OVK, sê hulle is steeds begerig om met VKB in die toekoms saam te smelt. Gegewe die feit dat 'n jaar verloop het sedert die aanvang van dié proses, het die datum vir die bepaling van die relatiewe verhouding tussen die partye na 1 Maart vanjaar verskuif. Dit beteken dat meer tyd gaan verloop voor die nuwe relatiewe verhouding tussen dié partye bepaal gaan word.

Marais sê hulle is bewus van die uitdagings wat die nuwe Koöperasiewet gaan stel. Dié wet stel een man een stem voor. VKB gebruik egter die geweegde stemstelsel.

Verder meld die wet slegs natuurlike persone kan met 'n koöperasie sake doen. Sowat 40 % van die huidige sake word in die vorm van 'n regspersoon, soos 'n maatskappy, gedoen. Hierdie aangeleentheid sal in die nabye toekoms deur die direksie bespreek word, sê Marais.

7 April 2006