Die organisasie Wildbedryf Suid-Afrika steun die beheermaatreëls ten opsigte van varkpes in die Oos-Kaap.
Mnr. Borrie Erasmus, voorsitter van Wildbedryf SA, het 'n beroep op sy lede gedoen om ten nouste met die ander belanghebbendes saam te werk sodat varkpes nie na die ander provinsies versprei word nie.
Die beheermaatreëls geld sedert 7 April vanjaar om die verspreiding van dié siekte onder varke, wilde varke, bosvarke en vlakvarke in die Oos-Kaap te voorkom. Die maatreëls bepaal dat hierdie diere, hul produkte of teelmateriaal nie uit die Oos-Kaap geneem mag word nie.
Verwerkte vleis en gemonteerde trofeë wat volgens voorskrifte verwerk is, word van die beperkings vrygestel.
Erasmus sê die wildbedryf word gelukkig nie te ernstig deur die maatreëls geraak nie.
"Die persentasie van lewende bos- en vlakvarke wat op veilings in die gebied verkoop is, is betreklik klein teenoor alle wild wat verkoop is. Ek is bewus van slegs een pakket van vyf bosvarke wat die afgelope jaar op een van die Oos-Kaapse veilings aangebied is."
28 April 2006