Die inmaakvrugtebedryf in Suid-Afrika is tans glad nie winsgewend nie. 'n Taakspan waarin belanghebbendes in dié bedryf gaan saamwerk, is op die been gebring om na moontlike hulp te kyk.
Afgesien van verteenwoordigers van die Regering is lede van die bedryf en vakbonde by die taakspan ingesluit, sê mnr. Rudi Richards, voorsitter van die Suid-Afrikaanse Vrugte- en Groente-inmaakvereniging.
Hy sê die sterk rand is die grootste probleem wat uitvoer heelwat aan bande lê. Ook oorsese landbousubsidies pla baie.
Die samesmelting van die twee inmaakfabrieke Langeberg en Ashton Canning verlede jaar was 'n regstreekse uitvloeisel daarvan om koste te probeer sny en sodoende meer mededingend te word. Dié samesmelting is deur die Mededingingstribunaal onder sekere voorwaardes goedgekeur, waaronder dat dit met die minste moontlike werksverliese gepaard gaan. Daar was wel 'n daling van 10 % in die getal vaste werkers, maar dit was hoofsaaklik weens vrywillige bedankings. Minder seisoenale werkers is egter in die afgelope seisoen gebruik.
Richards sê produsente het 'n prysdaling van sowat 24 % oor die laaste drie jaar ondervind. 'n Verdere daling van 4 % word vir vanjaar in die vooruitsig gestel. Ook die vrugteoes daal baie. Die taaipit perske-oes het van meer as 134 000 ton verlede jaar tot sowat 94 000 ton dié seisoen gedaal. Dit beteken 'n reusedaling van 30 %. Perskepryse het met sowat 5 % gedaal. Ook die ander vrugtesoorte, soos Bon Chretien-pere en Bulida-appelkose, se oesverwagtinge is laer as die vorige seisoen.
Die taakspan is geïnisieer deur die Adjunkminister van Handel en Nywerheid, dr. Rob Davies, en die span sal probeer om oplossings te kry vir die krisis waarin die inmaakbedryf hom nou bevind. Beter marktoegang sal veral aandag kry, want tans word sowat 85 % van Suid-Afrikaanse ingemaakte vrugte uitgevoer, waarvan bykans die helfte na EU-lande, sê hy.
28 April 2006