Landbou
Kwelvrae oor regulasies in jagbedryf
THEUNS BOTHA

Die wetgewing wat die Regering beoog om die jag van wild in die land te reguleer, kan die besluitnemingsmag van wildboere ontneem, sê mnr. Jokl le Roux, hoof uitvoerende beampte van die Oos-Kaapse Wilbestuursgenootskap (OKWBG).

"As ons die voorgestelde wetgewing reg verstaan, wil dit lyk asof alle wildsoorte — selfs springbokke en koedoes wat volop is in die Oos-Kaap — as beskermde spesies aan 'n permitstelsel onderhewig gaan wees". Voor sulke diere gejag kan word, sal die jagter eers aansoek om 'n permit moet doen.

Hy meen dit is onaanvaarbaar "dat iemand anders kan besluit hoeveel koedoes per jaar van 'n boer se plaas verwyder mag word" . Volgens hom kan dit daartoe lei dat koedoes feitlik geen meer waarde het nie — dieselfde situasie as wat in die 1960's gegeld het.

"Daar is allerlei norme wat voorgestel word, soos dat owerheid wat die permitte uitreik, eers met alle belanghebbendes moet beraadslaag. Dit beteken dat elke jagtog eers openbaar gemaak moet word voor toestemming van die betrokke owerhede verkry sal word. Kan jy jou voorstel hoe lank dít gaan duur? Ek dink daar is heeltemal met die voorstelle oorboord gegaan."

Le Roux sê hy twyfel of die Suid-Afrikaanse Nasionale Instituut vir Bio-diversiteit (SANBI) wat verantwoordelik sal wees om statistiek by te hou oor die soort en hoeveelheid wild wat jaarliks geskiet word, die vermoë het om die taak doeltreffend uit te voer.

"Nog 'n knelpunt is dat dit wil lyk asof die bedoeling van die beoogde wet is dat álle jagters, hetsy hy/sy net een bok 'n jaar skiet, nou lid van 'n jagtersvereniging sal moet word. Daar is duisende mense wat net een keer per jaar jag wat hierdeur geraak sal word."

Mnr. Johan du Plessis, ondervoorsitter van die Oos-Kaapse NWKV, sê dit lyk ook asof die jag met honde verbied gaan word. "In die bergagtige dele van die Oos-Kaap is dit ondenkbaar om bosvarke en rooikatte, wat groot skade veroorsaak, sonder honde wat die spoorsnywerk doen, te jag. 'n Mens wonder maar net of boere wat as gevolg van die wetgewing verliese gaan ly, ook deur die staat vergoed gaan word," het du Plessis gesê.

Le Roux sê instansies wat deur die wetgewing geraak gaan word, het ses weke tyd om kommentaar op die verskillende aspekte daarvan te lewer.

12 Mei 2006