Landbou
SA plaaswerkers na Frankryk
MALIXOLE GWATYU

Tien plaaswerkers van die Wes- en Noord-Kaap vertrek in September na die beroemde Boergondië-wynstreek in Frankryk om teoretiese en praktiese kennis van die Franse wynbedryf in te win.

Volgens me.Marie-Francoise Muller, ondervoorsitter van die Boergondiese streeksraad, is dit dalk nou tyd om na 'n handelsooreentoms tussen dié streke te kyk. Sy het op die funksie in Stellenbosch gepraat waar vanjaar se kandidate bekend gemaak is.

"Die menslike aspek is reeds in plek. 'n Handelsooreenkoms tussen die streke moet nou geïnisieer word wat hopelik teen volgende jaar van stapel gestuur kan word," het sy aan Landbouweekblad gesê.

Sy meen só 'n ooreenkoms kan beteken dat 'n Franse afvaardiging van dié streek vir sakebedrywighede na supermarkte in die Wes-Kaap gestuur kan word — en andersom.

"Ons het jaarliks die groot en bekende varsprodukteweek en die Trade Fair geleentheid in Dijon (Frankryk) waar ons die Wes-Kaap kan nooi om hul produkte te kom wys," het sy gesê.

Mnr. Charles Erasmus, uitvoerende hoof van die Suid-Afrikaanse Wynbedryftrust (Sawit), sê die ondervinding wat die werkers in Frankryk opdoen, is van groot waarde.

"In die vyf jaar sedert die projek begin het, het ons gesien hoe dit nie net help om kennis en passie vir die wynbedryf oor te dra nie, maar ook hoe die blootstelling aan die Franse wynkultuur mense begeester en selftrots gee," het hy gesê.

In Boergondië bring die tien werkers twee weke in die dorp Beanne deur, waar hulle klas loop by die befaamde Centre de Formation Professionelle et de Promotion Agricole (CFPPA), waar sommige van Frankryk se topwynmakers opgelei word.

Die tien werkers wat vanjaar aan die Boergondië-projek deelneem, is mee. Anna May van Nuwerus-plaas (Worcester), Ursula Engelbrecht van Vriesenhof (Stellenbosch), Mirriam Magwa van Rustenburg-wynkelder (Stellenbosch), Jane Jack van Lourensford-wynkelder (Stellenbosch), en mnre. Leon Nero van Jordan-wynkelder (Stellenbosch), Elrico Coetzee van die Oranjerivier-wynkelder (Upington), Winston Bailey van die Deetlefs-landgoed (Rawsonville), Colin Jonkers van die Hamilton Russell-wynkelder (Hermanus), Jonas Cupido van Van Loveren (Robertson) en Abraham Pretorius van die Calitzdorp-wynkelder.

19 Mei 2006