Landbou
Onkunde laat mense koud vir wildsvleis — studie
THEUNS BOTHA

Mans én vroue weet nie regtig hoe om wildsvleis voor te berei nie. 'n Vrees vir verleentheid is dus een van die redes waarom hulle nie graag daarmee kos maak nie. Dít is een van die bevindings in 'n studie wat deur prof. Laetitia Radder van die departement bemarking aan die Nelson Mandela Metropolitaanse universiteit voltooi is.

Dié studie, waarin persoonlike onderhoude met 40 respondente gevoer is, het getoon daar is 'n groot verskil in die mening van mense wat wildsvleis eet en dié wat dit nie eet nie. Ofskoon albei groepe meen wildsvleis is gesond, meen hulle dat die voorbereiding daarvan te veel moeite en tyd verg.

Van die 13 mans en 27 vroue wat ondervra is, het 53 % gesê hulle eet minder as vier keer per jaar wildsvleis. Altesame 47 % verkies om wildsvleis tuis voor te berei, terwyl die ander dit eerder in restaurante bestel, of net eet as hulle by familie en vriende kuier. Sowat 53 % van die respondente het aangedui dat hulle minder as 'n uur aan die voorbereiding van 'n hoofmaaltyd bestee.

Albei groepe meen dat wildsvleis "anders" is. Diegene wat egter nie vertroud daarmee is nie, het aangedui dat hulle nie avontuurlustig genoeg is om dit in restaurante te bestel nie.

In 'n vorige opname in 2003 deur dieselfde departement het 'n opname onder 300 verbruikers in die Oos-Kaap getoon dat hulle verkies om wildsvleis by hulle plaaslike slagter te koop, eerder as regstreeks van boere. Supermarkte en hipermarkte was onderskeidelik derde en vierde op die ranglys.

Sowat 60 % van die respondente het destyds gesê hulle het spesiale voorkeure as dit by die koop van 'n betrokke wildsoort kom. Koedoe was die gewildste soort, gevolg deur springbok, bosbok en blesbok. Slegs 10 % sou oorweeg om 'n hele karkas te koop. Die meeste sou verkies om dit volgens bestelling, in snitte van hul voorkeur, te koop.

Radder beveel aan bemarkers van wildsvleis behoort te fokus op die siening van verbruikers dat dié soort vleis bewese gesondheidsvoordele inhou asook op metodes om dit makliker voor te berei. Daar behoort ook 'n advertensieveldtog van stapel gestuur te word om verbruikers se wanindrukke te besweer, sê sy.

19 Mei 2006