Die Land Bank se probleme het nie ontstaan vanweë sy finansiering aan opkomende boere nie. Dit het ontstaan vanweë sy finansiering aan kommersiële boere.
Mnr. Alan Mukoki, uitvoerende hoof van die Land Bank, het op Nafu se kongres gesê die lenings aan opkomende boere is só klein, dat as die helfte van die lenings aan hulle as slegte skuld afgeskryf sou word, dit nie 'n uitwerking op die bank se werksaamhede sal hê nie.
Mukoki sê die bank "sukkel" nadat hy die afgelope vier jaar altesame R4 miljard verloor het. Omswaai-aksies word nou in werking gestel om die bank weer op koers te kry. Volgens Mukoki is hy drie jaar gegee om sake reg te stel. Hy het nog 18 maande om sy mikpunte vir 'n gesonde bank te behaal en is vol vertroue dat hy in sy taak sal slaag.
"Die bank se kapitaal is byna alles uitgewis. Ons onderhandel tans met die Regering. Die staat wil egter weet waarom hy moet help as dit nie tot voordeel van opkomende boere gaan wees nie."
Volgens Mukoki moet die bank se kernbesigheid die verskaffing van finansiering aan opkomende boere wees, maar dat finansiering steeds aan kommersiële boere toegestaan moet word.
Hy sê 'n mens sou kon vra dat as kommersiële boere sukkel, hoe dit moontlik sal wees vir opkomende boere om onder dieselfde organisasie suksesvol te wees. "Van die nuwe planne behels nuwe produkte wat sal help dat 'n groter bedrag aan opkomende boere beskikbaar gestel word. As die omswaai-proses voltooi is sonder dat nuwe produkte bekend gestel word, sal slegs R180 miljoen deur opkomende boere geleen kan word. Dit is 'n grap. Ons wil dit verhoog tot R800 miljoen of R1 miljard," het hy gesê.
Volgens hom bestaan die bank se swak prestasie reeds 'n paar jaar lank.
"Die Land Bank kan reeds môre omgeswaai word, maar dan moet hy selektief wees ten opsigte van die kliënte aan wie hy lenings toestaan. Dit is wat handelsbanke doen. Die Land Bank se mandaat is om 'n ontwikkelingsfinansier te wees. As hy hierin faal, dan faal hy in sy mandaat."
23 Junie 2006