Landbou
TLU SA nou deel van Mbeki se werkgroep
NICO VAN BURICK

Die georganiseerde landbou het moontlik 'n stappie nader aan eensgesindheid beweeg met die TLU SA se aankondiging dat hy by die presidensiële werkgroep vir die landbou gaan aansluit.

Volgens die TLU SA het me. Lulu Xingwana, Minister van Landbou en Grondsake, die organisasie genooi om die werkgroep onder voorsitterskap van pres. Thabo Mbeki by te woon. Mnr. Paul van der Walt, voorsitter, en mnr. Bennie van Zyl, hoofbestuurder, sal die TLU SA verteenwoordig. Van Zyl is ook betrokke by die Forum vir Uitvoerende Hoofde in die Landbou en sou in hierdie hoedanigheid reeds by die werkgroep betrokke geraak het.

Hy sê die TLU SA benader sy betrokkenheid met groot verantwoordelikheid, maar wil sy standpunte oor knelpunte in die landbou openlik stel. "Ons weet nie hoeveel geleentheid vir bydraes daar sal wees nie. Dit sal die eerste keer wees wat ons dit bywoon en aanvanklik sal 'n mens dit seker ondersoekend benader. Dit is pres. Mbeki se vergadering en mens moet respek hê vir die omstandighede."

Van Zyl sê die TLU SA gaan egter sy standpunte uitdra, al moet dit ná die tyd geskied. "Ons bly by die standpunt dat die kwessies binne die landbou uit 'n meer ekonomies gerigte uitgangspunt benader moet word. Ons moet met die werklikhede werk — nie drome wat later in nagmerries verander nie."

Mnr. Lourie Bosman, voorsitter van Agri SA, sê sy organisasie het nie 'n probleem met die TLU SA se deelname nie. Hy sê Xingwana het Agri SA en die National African Farmers' Union (Nafu) in haar besluit oor die uitnodiging geken. "Die vertrekpunt vir die presidensiële werkgroep is die sektorplan vir die landbou wat immers op pres. Mbeki se inisiatief tot stand gekom het. Ons hoop as die TLU SA deelneem, dat hy ook die sektorplan steun. Ons is besig met die uitvoering daarvan en as die TLU SA gemaklik is daarmee, is ons bly."

Hy sê die sakelys vir die volgende presidensiële werkgroepvergadering is juis geskoei op die drie pilare van die sektorplan, naamlik breër deelname aan die landbou, winsgewendheid en mededingendheid en volhoubaarheid.

Van Zyl sê egter hy stem nie saam dat aanvaarding van die sektorplan nodig is vir deelname aan die werkgroep nie. "As dit 'n voorwaarde sou wees, is ons nie daar nie."

Hy sê die TLU SA het bepaalde probleme met die sektorplan omdat daar te veel ideologiese insette is. "Daar is talle vraagtekens oor baie dele van die plan en ons houding daaroor is gekwalifiseerd."

30 Junie 2006