Landbou
Mdladlana gee redes vir lone


Die beskerming van werkers en die uitfasering van die tweevlakstelsel vir plaaswerkers oor die volgende drie jaar is met die vasstelling van die nuwe minimum loon vir plaaswerkers in ag geneem, sê mnr. Membathisi Mdladlana, Minister van Arbeid.

Hy het in 'n brief aan Agri SA geantwoord op kommentaar en kritiek teenoor sekere aspekte van die nuwe sektorale vasstelling - veral oor die skerp verhoging van die minimum loon in landelike gebiede (gebied B). Die minimum loon vir plaaswerkers in stedelike gebiede (gebied A) het in Maart met 4,6 % gestyg en in landelike gebiede met 12,73 %. Op 1 Maart volgende jaar styg die minimum loon in gebied B met 11,95 % en in Maart 2008 met 10,21 %.

In sy brief sê hy die Diensvoorwaardekommissie (DVK) moes in sy aanbevelings die invloed van die voorgestelde minimum loon op die verligting van armoede sowel as die impak op klein ondernemings, die bekostigbaarheid van die verhoging en die invloed wat dit op indiensneming het, in ag neem. Voorstelle van Agri SA is volgens hom ook in ag geneem.

In die aanbeveling van die DVK wat hy aanvaar het, word voorgestel dat die lone van gebied B binne drie jaar op 'n gelyke voet met dié van gebied A moet wees. Die verhogings in gebied A word gebaseer op die inflasiekoers van 4,7 % wat gegeld het toe die verslag opgestel is. Verhogings vir gebied B is só dat dit vanjaar 89 % van salarisse in stedelike gebiede is, aanstaande jaar sal dit 95 % wees en in 2008 dieselfde.

Hy sê deur hierdie benadering te volg, word werkers nie benadeel nie en deur die skrapping van die bepaling van 27 uur, is daar die buigsaamheid vir boere om 'n koste-doeltreffende werksreëling te tref. Voorheen moes 'n boer 'n werker wat meer as 27 uur in 'n week gewerk het, 'n volle weeklikse tarief - asof hy 45 uur gewerk het - betaal. As 'n werker nou minder as 45 uur per week werk, kan hy per uur vergoed word.

Mdladlana het weer boere wat hulp benodig, genooi om om 'n ministeriële vasstelling aansoek te doen. Hy sê dit moet net op die voorgeskrewe manier geskied, hulle moet goeie redes daarvoor kan gee en hulle moes met die werkers of hul vakbond daaroor onderhandel het.

11 Augustus 2006