Landbou
VKB-wins op in moeilike jaar
AINSLEY MOOS

Die landboukoöperasie Vrystaat Koöperasie Beperk (VKB) op Reitz in die Oos-Vrystaat se omset het die afgelope boekjaar met 14 % gedaal weens swak landboutoestande. Hy kon egter sy netto wins met 39 % verhoog.

Die onderneming se jaarverslag dui aan die styging in netto wins is grotendeels toe te skryf aan die verkoop van VKB se belang in die Pioneer-voedselgroep. Dié transaksie het vir VKB 'n kapitaalwins van R29 miljoen meegebring. VKB het die afgelope boekjaar 'n netto wins van R43 miljoen en 'n omset van R1,122 miljard getoon.

Mnr. Cerneels Claassen, voorsitter in die oorsigjaar, skryf in die jaarverslag die moeilike landboutoestande het uitdagings vir boere én die koöperasie gebring. Die daling in mieliepryse het "ekonomiese verbouing daarvan onder druk geplaas". As bystand het VKB 'n waarborgprys van R700 per ton ingestel wat 'n "groot premie op die destydse markwaarde was". Hy sê die doel was om lede se sekuriteitsposisie te onderskraag.

Hoewel laer aanplantings 'n jaar gelede 'n gunstige uitwerking op die mielieprys gehad het, het die laer aanplantings 'n verlies aan inkomste vir VKB beteken, sê hy.

'n Daling in boerederybedrywighede het ook 'n daling in die verkoop van meganisasie-eenhede meegebring. "Die gevolg was dat buitengewone afskrywings ten bedrae van R13 miljoen op voorraad nodig was. Dit het die bedryfsresultaat baie benadeel," sê Claassen.

Ondanks dié toestande kon VKB die afgelope vyf jaar presteer, sê hy. Dit sluit in ledegeld van R52,6 miljoen wat terugbetaal is en 'n toename van R53,6 miljoen se reserwes. Daarby het die totale ledebelang met sowat 58 % gegroei — vanaf R266 miljoen tot R419 miljoen — en ledegetalle het vanaf 1 740 verhoog tot 2 199.

Claassen stel verskeie pessimistiese én optimistiese faktore vir die jaar in vooruitsig en sê "plaasveiligheid en diefstal bly steeds 'n probleem wat die riskantheid van boerdery verhoog." Hy sê ook veepryse is sowat 38 % hoër as 'n jaar gelede en dit skep geleenthede vir VKB se veeboere.

18 Augustus 2006