Landbou
Topvroueboer glo in harde werk
NICO VAN BURICK

Harde werk, deursettingsvermoë en doelgerigte beplanning. Dít is die suksesresep van vanjaar se nasionale Vroueboer van die Jaar, me. Linda Nghatsane van Mpumalanga.

Sy is op 'n glansgeleentheid in Durban uit 34 finaliste vanuit al nege provinsies as die algehele wenner aangewys. Sy was ook die wenner van die afdeling vir produsente wat vir die informele markte produseer en het R65 000 in prysgeld ontvang.

Nghatsane bedryf die landbouprojek Abundant Life Skills naby Nelspruit. Die plaas is in 2004 gekoop en daar word onder meer met 3 800 braaikuikens, oestersampioene, aarbeie en 'n verskeidenheid van groente geboer. Dit word in Nelspruit en in nabygeleë gemeenskappe verkoop.

Sy sê benewens harde werk en deursettingsvermoë is dit uiters belangrik vir enige boer om mikpunte te stel waarna gestrewe kan word. "Sonder mikpunte op die langer termyn kom 'n mens nêrens." Haar raad aan ander vroueboere is om beheer oor hul lewens te neem en 'n kans te waag.

Die wenner in die afdeling vir produsente wat vir die nasionale markte produseer, is me. Jeanne Groenewald van die Wes-Kaap. Sy het in 1996 met 100 kuikens in haar agterplaas begin boer. Vandag voorsien sy groot supermarkte van hormoonvrye braaikuikens en sy verskaf werk aan 220 mense.

In die afdeling vir die uitvoermarkte deel me. Rodene Lambrecht, die kandidaat vir Noordwes, en me. Martha Mulaudzi van Limpopo die prysgeld van R35 000. Mulaudzi voer tamaties, botterskorsies en mielies uit na buurlande en Lambrecht boer met Bonsmara-beeste en krokodille. Krokodilvelle en -vleis word na Singapoer uitgevoer.

Die beste produsent vir huishoudelike gebruik is die Ubuhle Bamanguni-tuinprojek in KwaZulu-Natal.

8 September 2006