Landbou
Boere kry pak wat hulle nie verdien nie
CHRIS JOOSTE

Dit het maklik geword om boere die skuld te gee ("boere-bashing") as dinge verkeerd loop Boere het 'n swak beeld, hulle kry pak oor goed wat hulle nie verdien nie, maar hulle sal die kritiek kan afskud.

Mnr. Christof Cloete, voorsitter van Agri Wes-Kaap, het op die kongres van Agri Noord-Kaap in Kimberley gesê boerdery is deesdae in 'n professionele beroep en boere verwag om só behandel te word. "Boere moet hul beeld verbeter deur met waardigheid en billikheid op te tree — deur op 'n waardige manier te kritiseer.

"Boere wat trots is op hul boerdery is ook trots op hul professionele organisasie. Hulle het vennote nodig in die vorm van Nafu SA, die TLU SA, politici, sakelui en die media."

Hy sê omdat daar minder boere in die nasionale vergadering is as voorheen, moet boere in die nuwe bedeling hul pad oop onderhandel.

"As boere nie bereid is om hul medeboere te oorreed om saam te werk nie, sal al die pogings nie slaag nie. As die verskillende landbou-organisasies onder een dak is, het die bedryf 'n sterk stem,"het hy gesê.

15 September 2006