Landbou
GM-saad in SA uitverkoop


Vir die seisoen wat voorlê, is alle geneties gemodifiseerde (GM) saad van ál die saadmaatskappye in Suid-Afrika uitverkoop.

Mnr. Kobus Lindeque, Monsanto se besturende direkteur vir Afrika suid van die Sahara, wat verteenwoordigers van die portefeuljekomitees vir landbou en grondsake, grond- en omgewingsake en vir wetenskap en tegnologie in Kaapstad toegespreek het, sê die bedryf groei sterk in die land.

Drie GM gewasse word verbou — mielies, sojaboon en katoen.

In die seisoen 2005/06 is dié gewasse op 609 000 ha aangeplant teenoor die 515 000 ha van die vorige seisoen. Mielies was bo aan die lys met amper 500 000 ha. Lindeque sê die wysiging van die GMO-wet het gelei tot 'n polemiek oor ongegronde omstrede kwessies — soos dat GMO's mense se gesondheid bedreig, die omgewing besoedel, nie voordele vir ontwikkelende boere inhou nie en nie groter winste lewer nie.

"Hierdie bewerings is ongegrond. Biotegnologie is niks nuuts nie. GM gewasse word reeds die afgelope 11 jaar geplant (in Suid-Afrika sewe jaar). Dit is voorafgegaan deur 20 jaar se nougesette navorsing. Daar is geen wetenskaplike getuienis enige plek ter wêreld wat toon dat kos van GM gewasse 'n bedreiging inhou vir diere of mense se gesondheid nie, of dat dit die omgewing besoedel het nie," sê hy.

Duisende kleinboere in Suid-Afrika koop GM mielie- en katoensaad en in die algemeen sê hulle dat hulle met GM mielies 'n verbetering van tot 42,6 % in hul oes getoon het teenoor dié van tradisionele mielies.

Lindeque sê in 2005 — volgens die ISAAA ('n onafhanklike internasionale organisasie vir die verkryging van biotegnologietoepassings in die landbou) — het 8,5 miljoen boere in 21 lande op al ses die kontinente 90 miljoen ha GM-gewasse geplant. Van hierdie boere was 90%, oftewel 7,7 miljoen, hulpbronarm boere in ontwikkelende lande. Dit is 'n toename van 11% teenoor die vorige jaar.

"Afgesien van voedsel skep landboubiotegnologie talle ander moontlikhede. Biobrandstof is die nuwe modewoord in hedendaagse landbou."

Ná biobrandstof, het hy voortgegaan, volg onbeperkte groei vir GMO's in die landbou, wat sowel opkomende as kommersiële boere sal bevoordeel met ongekende nuwe toepassings in die medisynebedryf, bekend as "farmaboerdery". Entstowwe teen talle aansteeklike siektes word uit GM-gewasse ontwikkel, wat op plase gekweek word as alternatief vir inspuitings, en dit teen 'n skamele gedeelte van die koste.

'n Cholera-entstof, wat in 'n piesang geproduseer word, kan teen 'n koste van 80c aan 'n kind gegee word in vergelyking met die normale koste van R500.

Landbouweekblad, 6 Oktober 2006