Die landboumaatskappye Senwes en Suidwes het 'n gesamentlike aankondiging gedoen waarin hulle sê hulle onderhandel oor moontlike samewerking.
Tans wil nie een van die maatskappye kommentaar lewer nie en dit word bespiegel dat die twee kan saamsmelt. Senwes het sy hoofkantoor op Klerksdorp en Suidwes sy hoofkantoor op Leeudoringstad, albei in Noordwes.
Luidens die aankondiging kan die samesprekings, indien suksesvol, 'n wesenlike uitwerking op die prys van albei maatskappye se aandele hê. Besonderhede van die transaksie, indien dit gesluit sou word, sal mettertyd vir finale goedkeuring aan albei groepe se aandeelhouers voorgelê word.
Mnr. Japie Grobler, voorsitter van Senwes se direksie, sê onder meer in die maatskappy se jongste jaarverslag "generiese en geografiese uitbreidings word deurlopend ondersoek" as deel van die maatskappy se groeistrategie.
Die aankondiging adviseer aandeelhouers van die maatskappye om omsigtig met aandele te handel tot 'n verdere aankondiging in dié verband gemaak word.
Landbouweekblad, 13 Oktober 2006