Dit is noodsaaklik dat die Regering sy beleid ten opsigte van die subsidiëring van biobrandstof en sy insluitingsyfers vir dié brandstof duidelik maak.
Mnr. Gerhard Scholtemeijer, voorsitter van die Proteïennavorsingstigting (PNS), het op die jaarlikse boeredag van die Swartlandse Kleingraanontwikkelingsgroep (Skog) op die proefplaas Langgewens, naby Moorreesburg, gepraat. Volgens hom is die huidige krisis in die brandstofbedryf nie weens fisieke tekorte nie, maar wel politiek gedrewe "wat tydelike tekorte agter elke graspol uitskop".
Volgens hom word projekte, soos met biobrandstof, nêrens ter wêreld sonder regeringsbetrokkenheid aangepak nie. "Daar is nie werklike brandstoftekorte nie, maar wel politiek-gemanipuleerde tekorte weens boikotte, sanksies of blote geldgierigheid en almal in die wêreld voel dit."
Brasilië het die laaste 30 jaar met suikerrietproduksie en etanol totaal onafhanklik geword van ingevoerde petrol, Duitsland is ver gevorderd met biodiesel uit kanola en Amerika vervaardig reeds groot hoeveelhede biodiesel en bio-etanol. Kanada vervaardig reeds biodiesel en voer selfs kanola uit na Dubai vir persing. In die res van die wêreld word reeds gepraat van 'n tweede generasie biobrandstofontwikkeling, die sogenaamde BTL (Biomass to Liquid).
Scholtemeijer sê daar is baie plekke in die wêreld waar Suid-Afrika en Afrika kan leer van biobrandstof sonder om te veel skoolgeld te betaal. "Ongelukkig oorheers politiek alles, maar ten spyte daarvan kan dié land goeie geleenthede benut ten opsigte van voorheen benadeeldes en werkloosheid.
"Ons moet leer by ander en die Regering moet sy beleid duidelik en spoedig formuleer en aankondig voor te veel foute gemaak en lugkastele gebou word," het hy gesê.
Die Kanadese regering sal vandeesmaand sy beleid oor biobrandstof aankondig in teenstelling met die Suid-Afrikaanse Regering se "oorverdowende stilte" hieroor.
Wat die Wes-Kaap betref, sê Scholtemeijer daar is ruimte vir bio-etanol uit wintergewasse of biodiesel uit kanola. "Die landbou in Suid-Afrika leen hom ideaal tot die maak van biobrandstof.
Regeringsbetrokkenheid is egter nie onderhandelbaar as die land hiermee suksesvol wil wees nie."
Landbouweekblad, 13 Oktober 2006