Landbou
Gewasproduksiekaart vir Wes-Kaap
JOHAN COETSEE

'n Omvattende gewasproduksiekaart gaan vir die Wes-Kaap opgestel word. Dit sal boere en landboumaatskappye kan help in hul besluitnemingsprosesse by gewasvestiging, sê dr. Johan Booysen, hoof van hulpbronbenutting by die Wes-Kaapse departement van landbou.

Hy het op die jaarlikse Skog-boeredag, naby Moorreesburg, gesê dit sal 'n omvattende inligtingstuk wees wat ook risiko-inligting oor klimaat sal bevat, wat dit vir boere makliker sal maak om ingeligte aanpassings te kan maak. Verwagte reënvalpatrone sal ook aangebring word en daar sal binne 'n seisoen gekyk kan word na aspekte soos vogstres en hitteverspreiding.

Boere en maatskappye se hulp is egter hiervoor nodig. Booysen doen 'n beroep op alle betrokkenes in die landbou en verwante bedrywe om die departement van inligting en statistiek te voorsien. Die kaart sal voortdurend bygewerk word en nuwe inligting sal via die internet beskikbaar gestel word.

Dit is 'n unieke geleentheid om die beste inligting moontlik te kan voorsien mits daar goeie samewerking van Wes-Kaapse boere en landboumaatskappye is, sê hy.

Die rede waarom daar nou eers só 'n gewasproduksiekaart geskep word, is omdat uitstekende tegnologie dit nou toelaat dat hoëresolusie-inligting geredelik beskikbaar is. Aspekte soos siekteverspreiding en homogeniteit van oeste sal ook aangedui kan word.

Die departement het reeds begin met die opstel van 'n basiskaart, het hy gesê.

Landbouweekblad, 13 Oktober 2006