'n Jaggids op DVD wat die jagter op 'n praktiese manier lei om die beste skote in die jagveld te skiet, is nou beskikbaar.
Die handleiding Shot Placement is deur mnr. André van Dyk, kommunikasiebestuurder van die Suid-Afrikaanse Jagters- en Wildbewaringsvereniging, saamgestel.
Dit toon op 'n interessante manier presies waar die beste skote geskiet word. Daarvoor het jagters verskillende bokke geskiet en dit toe gevries. Daarna is dit deurgesaag om haarfyn aan te dui waar die skote was en hoe doeltreffend dit was. Die DVD toon dan waar die beste (en veiligste) skote geskiet kan word.
Die DVD gee ook wenke hoe om hierdie skote eers vanuit verskillende hoeke te oefen sodat die jagter in die veld presies sal weet waar om te skiet, maak nie saak hoe die bok staan nie. Die les is duidelik: Ken jou geweer, maak seker jy weet waar die beste doodmaakplekke is en dan oefen jy voor jy jagveld toe gaan.
Die DVD kos R100 en is 38 minute lank.
Landbouweekblad, 10 November 2006