Sommige mielieboere kan vanjaar ernstige probleme ondervind om mielies te plant weens "logistieke probleme" om kunsmis te vervoer.
As die verwagte hoeveelheid mielies nie geplant word nie, kan die land baie na aan sy eindvoorraad beweeg. Minder aanplantings kan mieliepryse ook laat styg uit vrees oor die beperkte beskikbaarheid.
Ná verskeie gerugte die laaste twee tot drie weke het die Misstofvereniging van Suid-Afrika (MVSA), die bedryfsliggaam vir kunsmisvervaardigers, aangekondig boere mag dalk probleme ondervind met die tydige aflewering van dié produksiemiddel vir planttyd. Die vereniging skryf die probleem toe aan "logistieke probleme" met verwysing na die beperkte beskikbaarheid van pad- en spoorvervoer. Hoewel dié rede genoem word, verhoog kunsmismaatskappye hul produksie. "Ons produksie-aanlegte loop volstoom en teen hoër kapasiteit as voorheen en ons doen alles in ons vermoë om in ons kliënte se behoeftes te voorsien," lui 'n verklaring. Dit word glo gedoen omdat die vraag na kunsmis nou verhoog het.
Dr. Gert van der Linde, direkteur van die MVSA, sê hul raming is meer mielies sal vanjaar as verlede jaar aangeplant word, maar dat dit steeds minder sal wees as die aanplantings in 2004. "Uit 'n ondersoek van die vereniging was die sinvolste aanduiding dat 15 % minder kunsmis as in 2004 nodig sou wees," het hy gesê. Dit beteken kunsmismaatskappye reken slegs sowat 2,4 miljoen ha mielies sal vanjaar aangeplant word.
Luidens syfers van die Oesskattingskomitee kan boere vanjaar ongeveer 2,635 miljoen ha mielies aanplant.
"Tans dui alles daarop dat die bedryf met 'n buitengewone vraag te doen het. Die onverwagte styging in die vraag op kort termyn, tesame met logistiese probleme, kan moontlik daartoe lei dat die voorsiening van kunsmis aan sommige van ons kliënte oor die volgende paar weke moeilik kan wees."
Kunsmismaatskappye het verlede jaar groot verliese gely weens skerp dalings in aanplantings. Mnr. Dries van Schalkwyk, 'n handelaar van Mooirivier Graan, sê gegewe kunsmismaatskappye se verwagte aanplantings, sal boere gemiddeld meer as 4 ton/ha moet oes om te sorg vir 'n oordragvoorraad van bo 2 miljoen ton. Hy sê as die verwagte aanplantings nie realiseer nie, en boere nie bogemiddelde opbrengste kry nie, daar probleme kan ontstaan met die beskikbaarheid van mielies.
Mnr. Trevor Grant, besturende direkteur van Omnia Kunsmis, sê die bedryf is in hoëvlak gesprekke met Spoornet om te verseker dat kunsmis én stikstof en fosfaat betyds vervoer word. Met sowat 'n maand en 'n half van planttyd oor, probeer die bedryf groter vervoer tot sy beskikking kry, sê hy.
Grant sê die hoër as verwagte vraag kan meebring dat sommige boere kunsmis gaan ontvang wat nie volgens spesifikasies is soos deur hulle versoek nie.
Hy sê vroeëre jare kon die bedryf breedvoerig beplan oor die moontlik vraag na kunsmis. Die mededingingsowerheid het egter sy kommer uitgespreek oor samespanning, wat sulke besprekings nou verhinder. Dit het daartoe gelei dat sterk gesteun is op Graan SA se aanbevelings, sê hy.
Landbouweekblad, 24 November 2006