Landbou
Diesel-tekort dreig
NICO VAN BURICK

Kort op die hakke van waarskuwings oor 'n kunsmistekort weens "logistieke probleme" word boere ook gewaarsku om hul beplanning agtermekaar te kry vir 'n moontlike dieseltekort in Desember.

Daar word verwag dat aankopers hul voorraadvlakke laag gaan hou tot ná die verwagte prysverlagings in Desember. Mnr. Tony Twine, ekonoom van Econometrix, meen dat die dieselprys op 6 Desember met sowat 27c/liter kan daal. Dieselverbruik bereik tradisioneel 'n hoogtepunt in dié tyd weens someraanplantings en boere in die winterreënvalgebied wat oes.

"Dit sal fyn beplanning en goeie samewerking van boere verg om tekorte in landelike gebiede te vermy. Selfs al is daar genoeg diesel in die binneland beskikbaar, is daar net nie voldoende padvervoer om dit oral in landelike gebiede te kry as alle boere gelyktydig bestel nie," het hy gesê.

Mnr. Johan Pienaar, direkteur van ekonomie en handel by Agri SA, raai boere aan om 'n voorraad te hou wat genoeg vir 'n week of wat is — al is dit teen 'n hoër prys — eerder as om sonder voorraad te sit. "Daar sal waarskynlik 'n groot vraag ontstaan en dit is eenvoudig nie moontlik om almal op dieselfde tyd te voorsien nie."

Mnr. Collin McClelland, direkteur van die Suid-Afrikaanse Brandstofbedryfsvereniging (Sapia), sê die beoogde en onbeplande onderhoudswerk by raffinaderye het reeds veroorsaak dat voldoende voorsiening moeilik is. Brandstof word ingevoer om tekorte te vermy, maar dit is ook moeilik om in die groot vraag in die binneland te voorsien.

"Brandstof word per pad van Durban na Johannesburg vervoer en dit is nie die ideaal nie. Totdat die pyplyn na die binneland se vermoë verhoog is en Spoornet die nodige tenkwaens beskikbaar het vir meer spoorvervoer, sal dit egter 'n probleem bly."

Hy sê dit sal help as boere hulle bestellings oor 'n tydperk kan versprei. "As almal op 6 Desember gaan bestel, is dit soos om 'n hotelbespreking vir Kersnaweek te kry. Almal kan eenvoudig nie op dieselfde tyd gehelp word nie."

Graan SA het vroeër graanboere aangeraai om dieselbestellings vroegtydig te plaas om te keer dat voorsieningsprobleme boerderybedrywighede kortwiek.

Landbouweekblad, 1 Desember 2006