Landbou
Seisoen vir brande op hande
MALIXOLE GWATYU

Boere is as die "groot probleem" ten opsigte van veldbrande uitgesonder op die bekendstelling van 'n brandbewusmakingsveldtog in die Wes-Kaap.

Dié veldtog is begin omdat die seisoen vir brande in die winterreënvalstreek op hande is. Dit sal later na ander provinsies uitgebrei word.

Volgens me. Val Charlton, koördineerder van die program Working on Fire (WoF), is daar 'n verskeidenheid redes waarom hulle meestal boere as die sondaars beskou.

"Baie boere maak nie brandbane nie of kyk nie na die weer voor hulle voorbrande maak nie. Afwesige grondeienaars op plase verhoog ook die risiko's," het sy gesê.

Sy sê plaaswerkers wat as brandbestryders op plase gebruik word, is gewoonlik nie behoorlik opgelei om dit te doen nie.

"Jy kan nie die werkers 'n paar nat sakke gee en verwag dat hulle daarmee 'n groot brand moet keer nie. Die regte toerusting is dus ook hier ter sprake," het sy gesê.

Veldbrande het verlede jaar die land meer as R3 miljard gekos.

Mnr. Zane Erasmus, programbestuurder van brande by Cape Nature, meen dat te veel brande deesdae voorkom — iets wat nie natuurlik is nie.

Volgens hom was die natuurlike siklus van fynbosbrande in die verlede 12 tot 15 jaar, terwyl dit nou 4 tot 6 jaar is.

WoF het ook daarop gewys dat die weggooi van sigaretstompies in die algemeen 'n kleiner risiko vir brande inhou in vergelyking met die ander menslike oorsake.

Mnr. Tshepo Malatji van die Departement van Waterwese en Bosbou het benadruk dat die huidige veldtog 'n belangrike stap is om te verseker dat mense die bepalings van die Nasionale Wet op Veld- en Bosbrande nakom.

Landbouweekblad, 8 Desember 2006