Die Landbou-akademie Morgenzon in Mpumalanga is vanjaar se wenner van Landbouweekblad en Absa se Jeugboerwedstryd. Die skool het R20 000 met 'n varkproduksieprojek verdien.
In die tweede plek was die Hoër Landbouskool Oakdale by Riversdal met 'n projek waardeur kalwers op gehuurde weiding van die skool grootgemaak is en in die derde plek was die Landbou- en Hotelskool Weiveld by Parys met 'n hoenderboerdery. Dié twee skole het onderskeidelik R10 000 en R5 000 ontvang.
Tien skoleprojekte wat vroeër die jaar gekeur is en waarvoor elke skool R20 000 ontvang het om dit mee uit te voer, is verlede week in Centurion deur 'n span landboukundiges beoordeel. Die wenners is Woensdagaand by 'n glansgeleentheid van Absa en Landbouweekblad aangekondig.
Die Graad 11-veekunde-leerders van Morgenzon se projek het die koop van maandoud speenvarke behels wat gevoer is tot hulle slaggewig bereik het. Uitstekende wins is behaal en die skool beoog om met die projek voort te gaan.
Oakdale se projek het die koop van vleis- en melkbeeskalwers behels om hul prestasie in voerkraaltoestande te toets. Die kalwers sal teen April aanstaande jaar verkoop word en 'n deel van die wins sal vir 'n rugbytoer na die buiteland gebruik word.
Weiveld se projek was gemik op 'n goed toegeruste kleinskaalse hoenderboerdery waardeur leerders ervaring kon opdoen om as entrepreneurs vir hulself 'n inkomste te genereer.
Die ander skole wat deelgeneem het, was die Hoërskool Wagpos by Brits, Hoër Landbouskool Noord-Kaapland in Jan Kempdorp, Hoër Landbouskool Vryheid, Hoër Landbouskool Kuscke by Polokwane, Hoërskool Bekker by Magaliesburg, die Landbouskool Sinethemba by Piet Retief en Hoër Landbouskool Jacobsdal.
Die algehele wenner van 'n leserskompetisie wat met die jeugboerwedstryd gepaard gegaan het, is Thinus Coetzee van Hennenman. Hy wen 'n spaarrekening met R1 500 van Absa. Die maandwenners, wat elk R250 in 'n spaarrekening ontvang, is Lafras Venter van Bredasdorp, Johan Lourens van Caledon en Mia du Plessis van Lime Acres.
Landbouweekblad, 8 Desember 2006