Landbou
Nuwe knapkaart beloon lojale kelderbesoekers
AMELIA GENIS

'n Nuwe knapkaart (of kelderpas) wat lojale besoekers aan uitgesoekte wynkelders en restaurante beloon, is pas in Kaapstad bekend gestel.

Die "Cellar door pass" gebruik knapkaart-tegnologie, soortgelyk aan die kaarte wat gereelde fliekgangers by fliekteaters of lesers by boekwinkels gebruik, om wyngeesdriftiges en toeriste 'n unieke wyn- en koservaring te bied.

Die knapkaart is plaaslik deur Hospitality Management International (HMI) bekend gestel. Dit is geldig vir 'n jaar en kos R349 vir twee mense. Volgens mnr. Peter Kastner, bestuurder van HMI, kry kaarthouers ses bottels wyn en verskeie ekstras, soos proesessies, keldertoere, spesiale wynervarings en spesiale behandeling by deelnemende kelders en restaurante. Daarbenewens kry elke kaarthouer 'n laserskyf met 'n wyngids wat padkaarte, reisidees, kommentaar van wynmakers en wynopvoeders insluit. Krediet word op die kaart verdien deur by deelnemende restaurante te eet of wyn by deelnemende kelders te koop.

Enige toeris of inwoner van die wynstreke wat lanklaas 'n nuwe wyn geproe het, kan die kaart en meegaande inligting gebruik om 'n interessante reis deur verskeie Kaapse wynstreke te onderneem — van groot kelders, soos KWV en Lourensford, tot kleiner kelders, soos Constanita Uitsig en Hillcrest.

Mnr. Nick Carter van Smart Visit Solutions, die maatskappy wat die tegnologie ontwikkel het, sê die tegnologie en konsep word reeds sedert verlede jaar met groot welslae in Suid-Australië gebruik. Benewens al die voordele help die kaart wynmakers, kelder- en restaurant-eienaars om lojale kliënte beter te leer ken. Die bemarkers van die kaart in Australië het gevind dat kaarthouers meer wyn koop by kelders wat aan die konsep deelneem.

Vir meer inligting, of om 'n kelderpas te koop, besoek die webruimte www.cellardoorpass.com.

Landbouweekblad, 15 Desember 2006