Landbou
Veediefstal neem weer toe


Die Suid-Afrikaanse veebedryf het in die drie maande van 1 Julie tot 30 September 2006 'n verlies van R89 miljoen weens veediefstal gely.

Die nasionale veediefstalforum is bekommerd dat veediefstal in dié tyd 'n stygende neiging getoon het. Daar was veral 'n skerp styging in die diefstal van bokke. In die drie maande is 59 629 beeste gesteel vergeleke met 60 043 in die ooreenstemmende tyd in 2005, terwyl 109 368 skape en bokke gesteel is teenoor die vorige jaar se 100 043.

Die gebiede wat die ergste deur veediefstal geraak is, is Mthatha in die Oos-Kaap, Uthukela, Ulundi en die Middellande in KwaZulu-Natal, die Oos-Vrystaat en die oostelike Hoëveld van Mpumalanga.

Mnr. Koos van der Ryst, voorsitter van die forum, het opnuut 'n beroep op boere gedoen om hul vee te merk ingevolge die Wet op die Identifikasie van Vee. Hy sê om diere te merk, waarborg nie dat hulle nie gesteel gaan word nie, maar dit is 'n hulpmiddel om diefstal doeltreffend te bestry.

Daar dien tans 1 408 veediewe gevangenisstraf uit.

Landbouweekblad, 5 Januarie 2007